’n Man (45) is in hegtenis geneem nadat hy te stadig gery het, het die Johannesburgse metropolisie Sondag gesê.

Supt. Wayne Minnaar het gesê die man het Saterdagaand teen 30 km/h in die vinnige baan van die N1 noord in Midrand, Johannesburg, gery.

“Hy het met sy Mazda 6 in die vinnige baan van ’n nasionale pad, wat ’n 120 km/h-sone is, met afgeskakelde hoofligte gery,” het Wayne gesê.

Toe die man afgetrek en aangesê is om uit die motor te klim, het hy gesukkel om regop te staan vir die asemtoets, het Wayne bygevoeg. “Sy bloed-alkoholvlak was 0,90. Dis byna vier keer bo die wettige limiet van 0,24.”

Die man is in hegtenis geneem en na die Midrand-polisiestasie geneem. Hy sal na verwagting Dinsdag op ’n aanklag van dronkbestuur in die Randburgse landdroshof verskyn. – Sapa