Haar stem aan die ander kant van die telefoon doer ver in Australië klink vrolik en opgewonde – maar ook steeds baie nostalgies oor alles en almal wat hulle onlangs hier in Suid-Afrika moes agterlaat.

“Vandag is ek gelukkig en môre is ek nie,” sê Mariëtte Chippindall (47) eerlik. “Maar dis normaal, want ons skop nog nes. En dié slag het die op-en-af-buie niks met my skildklier te doen nie!’’ Sy lag. “Ja, ook nie enige ander probleme nie!”

Sy verwys na ’n onlangse koerantberig wat beweer sy en haar man, Giles, is van plan om te skei omdat hy ’n verhouding met ’n ander vrou in Suid-Afrika gehad het. Sy huiwer en sê dan beslis: “Ek gaan nie daarop kommentaar lewer nie.”

Mariëtte, Mev. Suid-Afrika van 2005, het daardie jaar ook landwyd en selfs oorsee bekend geraak as “die skildkliervrou’’ nadat Huisgenoot vertel het van haar jare lange stryd teen depressie en oorgewig weens skildklierprobleme (Skildklier Steel My Sprankel, 10 Februarie 2005).

So oorweldigend was die reaksie hierop dat sy ’n boek oor die “stille epidemie’’ geskryf en dit haar lewenstaak gemaak het om mense met dieselfde probleem te help. Maar toe, net ’n jaar later, word Mariëtte en haar man, Giles, en hul dogter, Tamlyn (nou 16), deur gewapende rowers in hul huis in Water-kloofrif in Pretoria oorval.

Dit was ’n trauma waaroor sy en haar dogter maar net nie kon kom nie, en vyf maande gelede het die gesin uiteindelik na Queensland in Australië verhuis. En om jou geboorteland en geliefdes te verlaat, sê Ma-riëtte, is ’n drastiese stap en beslis nie maanskyn en rose nie.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 29 April 2010.