Vyf mense, vermoedelik almal gewapende rowers, is Maandaagaand deur die polisie doodgeskiet op die R61-tolpad naby Shelly Beach, Durban.

Luidens berigte het dié voorval plaasgevind toe die Durbanse Eenheid teen Georganiseerde Misdaad ’n verdagte voertuig naby die tolhek gewaar het.

Die Valke het glo ’n wenk ontvang dat ’n voertuig wat betrokke was by transito-rooftogte in die Oos-Kaap in die gebied gewaar is. Toe hulle die verdagte voertuig wou stop, het die skote begin klap.

Die eenheid het teruggevuur en al vyf insittendes is dood. ’n AK-47 en vier ander vuurwapens is in die verdagtes se voertuig gevind.

Bronne: citizen.co.za, southcoastherald.co.za