’n Familielid van Johan Fourie het die besonderhede vir die gedenkdiens op die Wow! Wellington-gemeenskapsblad op Facebook gedeel.

Die polisie is steeds besig om Johan se skietdood te ondersoek maar niemand is nog vasgetrek nie.

Lt.kol. André Traut, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder het by navraag gesê daar is nog geen nuwe verwikkelinge in verband met Johan se dood nie. Dit is ook nie duidelik na hoeveel verdagtes die polisie soek nie.

Johan is Donderdagoggend in Kerkstraat, Wellington, buite die Standard Bank doodgeskiet. Hy het geld by die bank inbetaal waarna rowers hom glo by sy bakkie genader het, het Netwerk24 berig.

Johan se 5-jarige seuntjie het eerste by die bakkie ingeklim. Toe Johan aan die bestuurderskant wou inklim, het die rowers hom glo genader. Johan het glo weggehardloop waarna die rowers op hom geskiet het.

Carike Fourie, Johan se vrou het Vrydagoggend ’n hartroerende boodskap op Facebook gedeel. Sy het saam met 'n foto van Johan, hom as haar “beste vriend en lewensmaat” beskryf. "Ek kan dit nie aanvaar nie. Waar is jy vanoggend? Ek is stukkend gebreek," skryf Carike.

"Jammer is nie genoeg nie. Dink baie aan jou en jou familie," skryf Leneke Cochrane op Facebook.

Mense wat vir Johan geken het, het sedert die tragedie troosboodskappe en herinneringe op Facebook gedeel.

“Johan was altyd reg om vir my 'n glimlag te gee! Altyd so ordentlik en voorbeeldig!” het ene Dané Malelane op die Wellington-groep geskryf.

’n Werknemer van die Mica het bevestig dat die winkel steeds oop is, maar wou nie enige verdere kommentaar lewer nie.