Beamptes van die West Oak-winkelsentrum in die voorstad Ocoee in Orlando het gister gesê alle tieners moet ná negeuur saans deur ’n volwassene vergesel word.

Die beleid is geïmplementeer nadat 100 tieners Saterdagaand ’n teater bestorm het nadat hulle kaartjies geweier is om Fifty Shades of Grey te kyk. Die rolprent het ’n ouderdomsperk en die kyker moet deur ’n ouer vergesel as hulle jonger as 17 is.

Wetstoepassers van Orange County en die polisie van Ocoee, Winter Garden en Windermere het skote afgevuur in ’n poging om die situasie onder bedwang te bring. Sowat 300 tieners het ook die winkelsetrum se kossaal bestorm.

Getuies wat 911 gebel het, het gemeld deure is versper, mense is toegesluit en tieners maak doodsdreigemente.

“Daar is oproerigheid. Daar hardloop baie kinders rond. Daar hardloop baie mense by die West Oaks-rolprentteater rond en ek dink hulle het die deure gesluit. Ek kan nie, ons kan nie uitkom nie,” het ’n beller gesê.

“Ons hoofbekommernis is dit,” het lt. Paul Hopkins aan die West Orange Times en Observer gesê. “Dit is middel- tot hoërskoolkinders wat vuurwapens het, skote afvuur, mense beroof, gesteelde motors bestuur en dwelms in hul motor het.”

“Jy moet te alle tye weet waar jou kinders is.”

’n Tiener is in hegtenis geneem vir aanranding en teësittery teen ’n beampte en ’n ander een vir ’n dwelmverwante oortreding.

Niemand is beseer nie en daar was geen skade nie.

Bykomende bronne: wotimes.com, ksn.com