Pretoria. JP van Niekerk, ’n veiligheidswag wat in Waterkloof doodgeskiet is, het sy lewe vir ’n ander gesin gegee, het ’n kollega Dinsdag gesê.

[caption id="attachment_111400" align="alignleft" width="300"]Foto: facebook.com/Bull-Security Foto: facebook.com/Bull-Security[/caption]

“Hy het sy lewe opgeoffer, maar hy is ’n held,” het French Jooste van Bull Security aan News24 gesê. “In ons almal se oë is hy ’n held. Hy het altyd eerste ingegaan. Hy was vir niks bang nie.”

French moes saam met Bull Security se eienaars, JP Griesel en Lendl Jansen, vir JP se vrou, Erica, gaan sê haar man is dood.

“Dit was een van die slegste ervarings van my lewe. Sy het nog geslaap. Ons het haar wakker gemaak en gesê: ‘Luister, daar was ’n voorval, en JP is op die toneel dood.’ Dit was nie baie aangenaam nie.”

JP laat sy vrou en twee kinders na wat albei nog op skool is. Hy is doodgeskiet nadat hy Dinsdag in die vroeë oggendure op ’n huisbraak in Waterkloof gereageer het. French sê ’n kliënt van Bull Security het omstreeks tien oor een Dinsdagoggend gebel en hulle ingelig daar is mense in die huis. Vyf mans, van wie twee gewapen was, het by die huis ingegaan.

‘Skietgeveg’

“Toe my ouens (Bull Security) by die kompleks inry, het die ouens begin skiet. ’n Hengse skietery het losgebars,” sê French. “Dit was ’n koeëlreën. Die hele huis, die baksteenmure, selfs die bure se mure is vol koeëlgate. Tot nou toe is ons nie seker hoeveel rondtes afgevuur is nie.”

Hy sê JP is net onder sy koeëlvaste baadjie in die maag getref. French sê toe hy op die toneel aankom, het JP nog geleef. “Ek het daar aangekom en een van die eienaars van Bull Security, JP Griesel, het ook opgedaag. Hy het noodhulp op JP begin toepas. Hy het hom probeer help.”

Netcare-paramedici het minute later op die toneel aangekom en JP probeer bybring, maar hulle kon nie daarin slaag nie.

French sê een van die verdagtes is deur JP se kollega Neila Botha gewond. Die verdagte was in ’n kritieke toestand en French was nie seker of hy sou oorleef nie. Drie van die vyf verdagtes het oor die agtermuur gevlug. ’n Ander een is op die toneel doodgeskiet.

‘Al die jong ouens het na hom opgesien’

JP, wat voorheen by ’n ander veiligheidsmaatskappy gewerk het, het maar sowat vier maande vir Bull Security gewerk. “Hy was een van ons beste beamptes,” sê French.

“Daardie ou het vir sy kinders en sy vrou geleef.”

French sê ’n mens kon altyd op JP staatmaak en hy is met deernis “oupa” genoem omdat hy die oudste lid van die span was. “Al die jong ouens het na hom opgesien. Wanneer hulle raad nodig gehad het, het hulle na JP toe gegaan.”

Hy voeg by Dinsdag se voorval was traumaties vir die hele span wat op die toneel was en traumaberading is gereël. Hy sê ook hulle kry baie steun van die gemeenskap, en baie mense het blomme by Bull Security se kantoor gaan afgee.

Bron: News24