[caption id="attachment_161729" align="alignnone" width="600"]Japie Erasmus is drie keer deur sy voormalige vennoot geskiet. Foto: Facebook Japie Erasmus is drie keer deur sy voormalige vennoot geskiet. Foto: Facebook[/caption]

Johanna Erasmus, wat Coen kort te vore nog beleefd gegroet het, se man van 27 jaar het 500 m vanaf sy onderneming, Vaal Industrial Development (VID), by die brandweer in haar en hul swanger dogter, Jacqeline Els (24), se arms gesterf.

Huisgenoot het vroeër oor die skietvoorval Vrydagoggend berig.

Coen het kort nadat hy omstreeks halfagt Japie se kantoor binnegestap het, homself in sy motor in die kop geskiet. Sekuriteitswagte het die hekke toegemaak en hom op die perseel ingehok toe hy die vuurwapen ook op homself rig.

Coen, wat in sy middeljare en die pa van twee kinders is, se ouderdom is onbekend. Konst. Maria Letsele, plaaslike polisiewoordvoerder, het “op aandrang van sy familie” geweier om enige inligting oor hom bekend te maak.

Johanna (47) het Woensdag, minder as ’n week ná die voorval, moedig aan Huisgenoot vertel sy voel kwaad en verbitterd oor die moord op haar geliefde man.

“Japie was ’n baie saggeaarde man. Hy sou nie ’n vlieg skade aandoen nie. Hy was altyd bereid om almal te help,” het sy gesê.

Sy het vertel haar man en Coen, wat van 2004 tot 2006 die onderneming Vacuum It besit het, se paaie het reeds in 2006 geskei nadat Coen bedrog gepleeg het. “Ons het aan die begin net gesien nou ry hy met ’n nuwe Mercedes SLK, koop ’n huis langs die rivier of ’n motorboot en gaan met luukse vakansies,” het Johanna gesê.

[caption id="attachment_161733" align="alignnone" width="600"]Coen Fourie by sy seun, Julius. Foto: Verskaf Coen Fourie by sy seun, Julius. Foto: Verskaf[/caption]

Sy vertel Coen het “baie goed gedoen wat hy nie moes nie”. Hy het onder meer die maatskappy se bates sonder Japie se medewete verkoop. Hulle het in 2008 ’n bedrogsaak teen Coen in die hof gewen en die onderneming is gelikwideer.

Johanna meen dit het Coen verbitterd gemaak en hy het gevoel dit is alles Japie se skuld. Sy vertel hy kon dit waarskynlik ook nie aanvaar nie of was jaloers omdat Japie steeds ’n sukses van sy ondernemings gemaak het.

Volgens Johanna was Coen “doodkalm” toe hy die oggend daar aankom en vra om met Japie te praat. “Ek was nogal verbaas om hom daar te sien,” vertel sy. Sy het Japie gaan roep en hulle het mekaar met die hand gegroet. Japie is toe saam met Coen na sy motor nadat dié gesê het hy wil hom die produkte wys wat hy nou verkoop.

“Ag, dit was nie sekondes nie, toe begin die skote klap,” vertel sy asof sy oor iemand anders se werklikheid praat. Coen het ’n vuurwapen te voorskyn gebring en toe Japie weghardloop, hom twee keer van agter geskiet. Hy het in die kantoor voor haar inmekaargesak.

Johanna en Jacqeline het hul man en pa op sy rug laat lê. Dit was toe dat Coen agternagekom het. Hulle het geskree om hulp en die deur probeer toemaak, maar Coen, nog net so kalm en in beheer, het Japie waar hy gelê het, ’n derde maal geskiet, dié keer in die maag. “Ek kon die haat in sy gesig sien toe hy dit doen,” vertel Johanna.

Die veiligheidswagte het hom op die perseel ingeperk, waarna hy homself geskiet het. Hulle het Japie in die bakkie gelaai en na die brandweer daar naby gery om hulp te kry, maar dit was reeds te laat.

Jacqeline (wat na verwagting oor vier maande die lewe gaan skenk aan ’n baba wat Japie se tweede kleinkind sou gewees het), se man, Jaco Els (26), en haar suster, Jo-Lene Booyens (22), se man, Ruan (25), was teenwoordig tydens die voorval. Jo-Lene, die ma van die eenjarige Mia, was nie daar nie.

[caption id="attachment_161735" align="alignnone" width="600"]Japie en Johanna met hul kleindogter, Mia. Foto: Facebook Japie en Johanna met hul kleindogter, Mia. Foto: Facebook[/caption]

“Dit is baie swaar,” vertel sy oor die gebeure. Die egpaar het mekaar 35 jaar geken. “Vandag het ek net gevoel ek kan in my kar klim en in die pad val en ry en ry en nooit terugkom nie.”

Japie word Vrydagmiddag twaalfuur vanuit die AGS Emmanuel-gemeente in Duncanville begrawe.

“Ons kan net bid en glo dat (die pyn) beter en sagter sal raak . . .”