’n Voormalige skerpskutter se vervreemde vrou dink dis “heeltemal geloofwaardig” dat ’n SAS-eenheid prinses Diana vermoor het.

Die eksvrou van die militêre veteraan wat as Soldaat N bekendstaan, is oortuig van die geloofwaardigheid van sy bewerings dat lede van Brittanje se spesiale magte betrokke was by die motorongeluk waarin Diana en haar kêrel Dodi Fayed in 1997 in Parys dood is.

’n Bron het aan die Daily Express gesê: “Sy is heeltemal oortuig daarvan hy het die waarheid gepraat toe hy gesê het die SAS was by Diana en Dodi Fayed se dood betrokke.”

Soldaat N beweer Diana en Dodi se motorbestuurder, Henri Paul, wie se ernstige nalatigheid glo die ongeluk veroorsaak het omdat hy gedrink en bestuur het, is deur lig verblind kort voor hy beheer verloor het oor die Mercedes-Benz W140 wat hy bestuur het.

Scotland Yard het op ’n geheime plek met die vrou ’n onderhoud gevoer. Sy sê haar eks het die beweringe gemaak voor hulle uitmekaar is.

Die bron het gesê: “Dis nie gesê om haar bang te maak of te dreig nie. Dit het uitgekom terwyl daar geen onenigheid in die huwelik was nie en terwyl hulle nog op goeie voet was.”

Dodi se pa, Mohamed Al Fayed, het nog altyd geglo hulle is vermoor en dis toegesmeer.