Miljoene mense wêreldwyd is al bekoor deur die stywelip maar stylvolle wêreld van die Britse historiese drama Downton Abbey. Binnekort sal hulle van daardie styl huis toe kan neem, en lippe kry wat so sag is soos Lady Mary s’n, wyn wat deur lord Grantham se gunsteling-drankie geïnspireer is – en selfs mure wat so grys is soos dié van Mrs. Patmore se kombuis.

Sedert dit in 2010 bekendgestel is, het die reeks oor die familie en diensknegte van ’n weelderige Engelse huis in die 1910’s en 1920’s net ál gewilder geword. Dis nou in 220 lande te sien.

Die vervaardigers het nie gespring om die meeste te put uit die kommersiële potensiaal van daardie gewildheid nie; hulle het meesal maar net DVD-stelle, muurkalenders en dagboeke verkoop. Maar dit gaan nou verander. Saam met die vierde seisoen, wat volgende maand op Britse TV begin en in Januarie op PBS, kom ’n reeks handelsware wat ’n bordspeletjie, huisware, klere, skoonheidsprodukte en selfs Downton-wyn insluit.

Alles in die beste smaak moontlik, natuurlik.

“Ons het dit nie halsoorkop aangepak nie,” het die uitvoerende vervaardiger, Gareth Neame, vandeesweek aan The Associated Press gesê. “Ons wou nie die handelsektor versadig nie.”

In ooreenstemming met die program se ysige deftige beeld, mik die produkte daarna om eerder vermaaklik as kitsch te wees.

Die Britse kettingafdelingswinkel Marks & Spencer sal’n Downton Abbey-skoonheidsreeks verkoop, insluitende seep, naellak, lipglans, lyfroom en gegeurde kerse. Die items se verpakking is nostalgies en is versier met aanhalings uit die reeks, soos die raad wat Maggie Smith se karakter, die weduwee-gravin van Grantham, in die eerste episode gegee het: “No one wants to kiss a girl in black.”

Downton-handelsware in die VSA en Kanada word deur Knockout Licensing hanteer, wat later vanjaar ook ’n juwelereeks van Danbury Mint en Kersornamente met Downton-temas van Kurt Adler gaan versprei.

Dit het ook ’n ooreenkoms met die beeldjievervaardiger Bradford Exchange; dit laat aanhangers hoop daar wag ’n reeks Downton-poppe – miskien Scheming Thomas en Admirable Bates.

Noord-Amerikaanse aanhangers kan ook binnekort Downton Abbey-wyn drink. Dit word bemark deur Wines That Rock, die Kaliforniese maatskappy agter die Rolling Stones se 40 Licks Merlot en Pink Floyd se Dark Side of the Moon Cabernet Sauvignon. Die Downton-rooiwyn is ’n sagte Franse klaret wat herinner aan dié wat die Britse adelstand in die vroeë 20ste eeu geniet het.

Cele Otnes, ’n professor in bemarking aan die University van Illinois, sê die gedetailleerde Downton Abbey-wêreld is die sleutel tot kykers se intense band met die program.

Sy vergelyk dit met die gewilde Amerikaanse TV-reeks Mad Men: “Dis nie net ’n televisieprogram nie, dis in werklikheid ’n estetiek.” Sy het ook bygevoeg die styging in die verkope van krawatte, onderbaadjies en sjerrie is ’n bewys van ’n Downton-gedrewe aptyt vir Edwardiaanse elegansie.

“Dis daardie hele ding oor die voorstelling van ’n leefstyl,” sê sy. “Ons gaan die huis binne, ons betree die karakters se lewens. Ons sien hoe lyk hul slaapkamers, hul badkamers, hul kombuise. Ons kan onsself nie net in die verhaal, wat aangrypend is, verloor nie, maar ook in die besonderhede van hul lewens.”

Geen detail is te klein om na te maak nie – nie eens die verf op die mure nie.

Mylands, die Londense verfmaatskappy wat histories akkurate verfkleure aan die program voorsien, het onlangs begin om twee van sy Downton-skakerings aan die publiek te bemark: Amber Gray, die kleur van die onderste kombuis wat onder die toesig is van Mrs. Patmore, en Empire Gray, waarmee Mr. Carson se hoofbediende se spens geverf is.

Dit is nie net enige grys dié nie. Dis Downton-grys.

“Op die stel lyk dit taamlik donker omdat ons hulle op die onderste verdieping gebruik,” sê Mylands se woordvoerder, Simone Barker. In die regte lewe “lyk hulle besonder sjarmant”.

Cele hoop die Downton-vervaardigers maak die produkte smaakvol eerder as goedkoop. As ’n aanhanger stel sy voor dat die vervaardigers “die Granthams se voorbeeld van terughouding” navolg en die reeks handelsware beperk.

Gareth, die hoof van die Downton-produksiemaatskappy, Carnival Films,is nie bekommerd nie.

“Ek is nie senuagtig oor die idee van handelsware nie,” sê Gareth, wat elke item daarvan goedkeur. “Wanneer ’n program wêreldwyd bekend en so geliefd is, sien ek geen probleem daarmee om produkte aan geharde aanhangers te bied wat hul verhouding met die program waarvoor hulle lief is wil uitbrei nie.

“Ons is sakemense. Ons bestuur ’n onderneming, wat daaroor gaan om intellektuele eiendom te skep en geld daaruit te maak. Ons verkoop soveel DVD’s ons kan en ons kan die program in soveel lande as wat ons kan verkoop. En jy weet wat? Deur dit te doen, kry ons die geld op die skerm en dit maak dit vir my moontlik om ander programme wat ons wil maak te finansier en om mense aan te stel. Ek is nie skaam oor die verkope en die doel daarvan nie.” – Sapa