Oogontwikkeling by babas

Ten einde hierdie toestand te verstaan, is dit belangrik om die ontwikkeling van ’n baba se oogspierstelsel te verstaan, sê die Kaapse pediater dr. Iqbal Karbanee. “By geboorte kan ’n baba se oë lig waarneem, maar is nog nie ontwikkel genoeg om te verstaan wat hulle sien nie. Daarby is die spiere wat oogbeweging beheer nog besig om te ontwikkel en nog nie ewe sterk nie. Dit is hoekom pasgebore babas nie op voorwerpe kan fokus nie.” Dr. Karbanee verduidelik ’n baba se vermoë om te fokus sal eers ná ses tot agt weke ten volle ontwikkel wees. “Jou baba kan ná die agt weke steeds skeel voorkom; dit is normaal. Dit kan wees omdat daar klein verskille tussen die oogspiere is soos hulle ontwikkel.”

Wanneer moet jy bekommerd wees?

Wat doen jy dus as jou baba skeel is? Ignoreer jy dit of kry jy mediese hulp? Dr. Karbanee meen jy moet jou kind dokter toe neem as hulle van geboorte skeel was en die toestand het in die eerste paar maande nie verbeter nie. “As ’n reël moet die kind deur ’n dokter – of verkieslik ’n oogspesialis – ondersoek word as hulle ná ses maande steeds skeel is.” Hy voeg by as skeelheid skielik by ’n kind van enige ouderdom opduik, moet die kind onmiddellik dokter toe geneem word

Die oorsake en behandeling

Skeelheid kan veroorsaak word deur ’n toestand genaamd ambliopie. Dit ontwikkel wanneer die brein sig in een oog onderdruk. Dit kan gebeur as jou baba se oë nie in lyn is nie of as hulle (weens bysiendheid, vêrsiendheid, astigmatisme of iets wat duidelike sig in daardie oog versper, soos ’n katarak of ’n hangende ooglid) met die een oog nie so goed kan sien nie. Ambliopie kan vererger as dit nie behandel word nie; dus is dit belangrik dat dit onmiddellik behandel word. Ná die ouderdom van vyf is dit baie moeilik om te behandel.  Die behandeling is heel eenvoudig: Die “gesonde” oog word toegeplak, wat die “lui” oog dwing om te werk.

Jou pediater moet tydens roetine-ondersoek jou baba se oë nagaan en jou na ’n oogspesialis verwys as daar rede tot kommer is.

- Lindsay de Freitas

Ekstra bronne: babycenter.com, parenting.com