Lily Beddall, ’n blondekoppie van Sawbridgeworth, Essex, is gekies as een van die modelle vir die klerewinkel Matalan se bemarkingsveldtog, berig die BBC.

“Die kontrak gaan daaroor om inklusief te wees en om die idees oor skoonheid is, te verander,” sê Lily se ma, Vicki. “Dit is wonderlik dat Matalan besluit het om ’n kind met Downsindroom te kies.”

Sy meen dit gaan ook daaroor om stereotipes die hoof te bied en te wys skoonheid kom in allerhande vorme.

Lily se pa, Eddie, is ook baie trots op sy kleinding.

“Downsindroom is nie wat ’n mens verwag nie. Dit verg soms harde werk. Maar sy (Lily) sou in elk geval harde werk gewees het, want sy is ’n tweejarige,” sê Vicki verder aan Metro.co.uk.

Die foto’s van Lily is einde verlede jaar geneem nadat Matalan na ’n kindermodel met Downsindroom begin soek het. Matalan het toe ’n liefdadigheidsorganisasie vir Downsindroomkinders gekontak om hulle met die soektog te help. Dié organisasie het toe die Beddall-gesin, wat ook by hulle betrokke is, genader om te vra of Lily die model sal wil wees.

Simon Lee van Matalan het aan die BBC gesê dit was heerlik om met Lily te werk. “Sy was 'n wonderlike model en ons is bly om te hoor dat Lily en haar ouers dit geniet het om haar foto’s in ons winkels te sien.”

Bronne: Independent.co.uk, BBC