Voor hy haar vir ’n geleentheid kom oplaai het, het die Teazers-baas, Lolly Jackson, haar altyd gebel om te vra oor die kleur van haar rok.

Dan het hy ’n motor vir die aand uit sy luukse vloot gekies – van dieselfde kleur.

Die model Christina Storm kan haar ontsteltenis kwalik verbloem hier waar sy in ’n koffierestaurant in Johannesburg praat oor haar boesemvriend van die afgelope jare – die man wat sommige as ’n goedhartige weldoener uitbeeld, en ander as ’n misdadige smeerlap.

Dis ’n dag nadat Lolly, die flambojante baas van ’n string ontkleeklubs, in ’n koeëlreën gesterf het, en geheimsinnigheid omhul steeds sy skokkende einde, vermoedelik aan die hand van ’n vriend.

Lolly (53) was ’n bol energie, vertel Christina met deernis. “Hy het altyd met drie mense tegelyk gepraat en dan was daar nog ’n selfoon teen sy oor ook,” vertel sy.

“Hy het nooit gegroet nie. Hy het net weggeval met ’n grappie as hy jou sien.” En hy het gevloek soos ’n matroos en

nêrens gegaan sonder tussen R8 000 en R20 000 kontant in sy sak nie.

Christina het menige bottle van Lolly se eie rooiwyn, Jackson, met hom gedeel in sy kantoor in die Teazers-klub in Rivonia, Johannesburg.

Hy was elke dag tussen 10 en 11 uur op kantoor. Hy het elke week elkeen van sy klubs besoek en saans is hy lank ná

middernag eers daar uit.

Hy het ses klubs landwyd besit en meer as ’n dosyn peperduur karre, maar presies hoeveel geld hy gehad het, weet niemand nie.

Lees meer oor Lolly Jackson in die Huisgenoot van 13 Mei 2010. Lees onder meer oor sy donker kant en hoekom party mense glad nie oor sy dood rou nie.