Of jy daarvan hou as geskenk of verkies om joune warm of koud te drink, sjokolade is al vir eeue lank miljoene mense se gunsteling-bederfie. Maar waar kom dié wonder-eetding vandaan? Die vroegste rekord van sjokolade wat geëet is, is van die Asteke in Sentraal-Mexiko wat in 1100 n.C. warm sjokolade gedrink het.

Bittersoet

Kakoabone is oorspronlike in ’n pasta gemaal om drankies mee te maak. Die bone is bitter en die woord “sjokolade” is glo afkomstig van die Asteekse woord vir “bitter water”. Toe sjokolade aan Europa bekendgestel is, is suiker gebruik om die drankies soeter te maak.

Hartjies en sjokolade

Die Asteke het sjokolade as deel van hul etes geniet, dit in godsdienstige rituele gebruik en selfs kakaobone as belasting geëis as hulle ’n stad verower het. Maar in Europa was sjokolade ’n nagereg. Die eerste sjokoladestafie is in die 1840’s in ’n fabriek van John Cadbury (die van behoort bekend te klink!) gemaak. Cadbury was ook die eerste een om sjokolade in hartvormige bokse vir Valentynsdag te verkoop. Maar sjokoladestafies groei nie aan bome nie. Dít is wat die proses behels:

Die boom

Kakaobome begin op drie tot vyf jaar blom. Die peule groei aan die stam en takke. Die boom dra twee keer per jaar peule (20 tot 30 peule per jaar). Slegs sowat 450 g se sjokolade kan van die bone in dié peule gemaak word, wat geoes kan word wanneer dit donkergeel is.

Die oes

Die peule word met die hand geoes en oopgesny om die bone te verwyder. Die bone word onder groot blare geplaas om te fermenteer.  Sodra dit gefermenteer is, word die bone in die son uitgedroog. Dit word daarna in sakke verpak en regoor die wêreld verskeep.

Vervaardiging

By die sjokoladefabriek word die bone gewas en volgens tipes en land van oorsprong sorteer. Daarna word dit in groot oonde gerooster. Die roosterproses maak die skil bros. Die bone word dan gesif om die skil van die stukkies wat die kakao-vastestowwe en kakaobotter bevat, te skei. Die kakaodeeltjies word dan in ’n pasta gemaal – dis sjokolade in sy suiwerste vorm. Sjokoladevervaardigers voeg dan bestanddele soos suiker, kondensmelk en kakaobotter by die sjokoladepasta en meng dit in groot mengers. Die mengsel word verfyn met groot rollers, wat dit sag en romerig maak. Daarna word dit geknie en omgeroer churn om dit sagter te maak. Voor dit in vormpies gegooi word, word dit verhit tot net die regte temperatuur om dit glad en glansend te maak.

Geniet

Dié heerlike produk word dan in miljoene winkels regoor die wêreld verkoop en geniet – veral op Valentynsdag.