Royal collage

DAAR het vanjaar omtrent baie aan die koninklike front gebeur: die viering van koningin Elizabeth se 60ste jaar op die troon (’n baie meer gedempte viering as verlede jaar se Jubileum-feestelikhede), die geboorte van prins George, prins Harry se nuwe liefde en dan natúúrlik – die stille maar stelselmatige verskuiwing van die Cambridges na heeltydse senior koninklikes.

Al die nuwe pienkvoete

Of dit prins George se (uiteindelike) geboortedag of sy doop was wat ek as die hoogtepunt van my koninklike jaar sal uitsonder, weet ek nie . . . Maar wat ’n heerlikheid was dit nie om daardie ronde gesiggie met sy doop van nader te bekyk en kop te krap oor na wie hy die meeste lyk nie!

Doop George

En so van koninklike kleingoed gepraat, met Zara Philips se swangerskap (sy is natuurlik ook een van George se peetma’s), en al die ander Europese koninklike nuus, was 2013 voorwaar ’n bonusjaar vir koninklike bewonderaars.

[caption id="attachment_61650" align="aligncenter" width="300"]Zara en Mike Zara Phillips en Mike Tindall op hul troudag.[/caption]

In Monaco is daar nog geen aanduiding van pienk voete by prins Albert en prinses Charlene nie. Daar was gerugte dat Charlene se hartseer blik moontlik veroorsaak is deur ’n miskraam, maar wie behalwe die binnekring agter die Pienk Paleis se mure sal nou regtig weet? My wens vir haar is dat 2014 vir ’n rosige troonopvolger in die arms sal besorg.

albert-charlene

Prinses Caroline, prins Albert se ouer suster, het natuurlik vanjaar ouma geword. Andrea Casiraghi en sy vrou, Tatiana, is eers ná die geboorte van hul eersteling getroud, en Andrea se suster, Charlotte, word binne die volgende maand ook ma!

In Swede was die ooievaar ook bedrywig. Prinses Madeleine, jongste suster van die troonopvolger prinses Victoria, is vanjaar getroud en is geseën met ’n wittebroodswangerskap. Sy en haar man woon in New York, maar vlugvoetige fotograwe hou ons koninklike volgers gereeld op hoogte hoe haar swangerskap vorder.

[caption id="attachment_61691" align="aligncenter" width="333"]Sweden Prinses Madeleine. Foto: Pan Media[/caption]

Afskeid en verwelkoming

Dit was ’n jaar van groot hartseer en groot vreugde in Nederland. Prins Friso, een van prinses Beatrix se drie seuns, is vanjaar oorlede nadat hy verlede jaar tydens ’n ski-ongeluk hewige breinskade opgedoen het.

En Beatrix het vanjaar besluit om te abdikeer ten gunste van haar oudste seun, Willem-Alexander. Hy en sy glansryke Argentyns gebore vrou, Maxima, is tans vir my die mees glansryke koninklikes in die kollig.

[caption id="attachment_61647" align="aligncenter" width="371"]Dutch Royals attend anniversary of Concertgebouw Amsterdam Willem-Alexander en Maxima. Foto: Pan Media[/caption]

Van die Deense troonopvolger, prins Frederik, en sy prinses Mary was daar nie vanjaar soveel te sien nie. Altyd ’n jammerte omdat hulle een van my gunsteling-koninklike paartjies is. Maar ek vermoed hul vier kinders hou hulle gans en al te besig!

[caption id="attachment_61641" align="aligncenter" width="344"]Mariage de la princesse Madeleine avec Chris O'Neill au Palais Royal a Stockholm Frederik en Mary.  Foto: Pan Media[/caption]

Nederland was nie die enigste Europese land waarin ’n monarg vanjaar besluit het om te abdikeer nie. Ook die eertydse koning Albert II van België het in Julie vanjaar weens gesondheidsredes die tuig neergelê ten gunste van sy seun, Philippe. Sowel die nuwe koning Philippe as sy koningin Mathilde wek by my die indruk van plat-op-die-aarde mense.

[caption id="attachment_61637" align="aligncenter" width="400"]Le roi Philippe et la reine Mathilde de Belgique en visite officielle au Luxembourg Philippe en Mathilde. Foto: Pan Media[/caption]

Die nuus dat hul 12-jarige dogter, prinses Elizabeth, die teiken van ’n moontlike ontvoering kan wees, los ’n wrang smaak in die mond hier in die doodsnikke van koninklike jaar 2013. Veiligheidsmaatreëls is opgeskerp, en ’n mens kan maar net hoop dat dié dreigement van ’n Neo-Nazi bloot by ’n dreigement bly.

Die abdikasies in Nederland en België het mense opnuut laat wonder of koningin Elizabeth dit nie dalk sal oorweeg om te abdikeer nie, maar vir iemand wat deur die abdikasiekrisis van 1936 in Brittanje moes worstel, bestaan dié woord eenvoudig nie.

Charles, Camilla en die Cambridges neem ál meer oor

Die koningin is wel besig om stelselmatig af te skaal. Só is prins Charles en sy vrou, Camilla, hertogin van Cornwall, vanjaar vir die eerste keer as haar verteenwoordigers na die Statebondberaad gestuur.

Charles, wat vanjaar sy 65-jarige verjaarsdag gevier het, is tans die langslewendige troonopvolger ooit in ’n duisend jaar. Wanneer hy eendag tot koning Charles III gekroon word, sal hy die oudste monarg ooit op die Britse troon wees.

princecharles3

Nie asof dit lyk of dít Charles pla nie, soos hy self tereg in ’n onderhoud opgemerk het. Hoe kan hy daarna uitsien om koning te word, as dit die dood van sy ma impliseer?

Sowel Charles as Camilla het die afgelope jare goed vordering gemaak in die oë van die publiek – die spindokters agter die paleismure se werk het vrugte afgewerp! Camilla is nie meer persona non grata nie, en lyk werklik goed. Sy kan altyd deur ’n ring getrek word, en vir my lyk dit of sy en Charles albei gemaklik in hul velle is. Met die Statebondbanket het Camilla in een van die koningmoeder se mees geliefde tiaras gepryk – ’n yslike nommer wat nie ongesiens verby enige toeskouer sal gaan nie!

[caption id="attachment_61639" align="aligncenter" width="302"]Dinner for Commonwealth Heads of Government, Colombo, Sri Lanka - 15 Nov 2013 Camilla by die Statebondsbanket. Foto: Inpra[/caption]

My grootste wens vir 2014 is dat Catherine met ’n ordentlike tiara haar verskyning op die rooi tapyt sal maak. Tiaras word beperk tot ’n staatsbanket, iets wat William en Catherine tot dusver grootliks vermy het deur bloot te sê sulke bankette is vir senior koninklikes.

Dinsdagaand het die Cambridges egter hul opwagting by hul eerste staatsbanket gemaak, en soos vereis het Catherine ’n tiara gedra, maar ’n onopvallende een! Dié tiara was oorspronklik die eiendom van koningin Elizabeth se ma, wat dit op haar beurt weer aan haar dogter, prinses Margaret, geleen het. Hopelik sal 2014 ’n geleentheid bring waar Catherine met ’n tiara sal spog soos dié waarin ons Diana so gereeld gesien het.

Kersfees in Sandringham

Vanjaar sal daar ’n vol huis, of moet ek sê paleis, in Sandringham wees. Die koningin het self haar oorlede sus Margaret se dogter lady Sarah Chatto, en haar gesin oorgenooi vir die Kersvakansie. Almal, van prins Andrew se twee dogters, Beatrice en Eugenie, tot die Chatto’s sal hul opwagting maak.

Dit is natuurlik ook George se eerste koninklike Kersfees, hoewel ek nie verwag dat hy peperduur bederfgeskenke gaan kry nie. Die koningshuis is mos bekend daarvoor dat hulle wedywer om te sien wie die goedkoopste geskenke kan gee.

En dan laastens … koningin Elizabeth se Kerskaartjie sal (hopelik) spog met ’n foto van haar en George. Toe George se doopfoto’s uitgereik is, was daar vrae oor waarom daar nie ’n foto van die huidige koningin en haar jongste troonopvolger by was nie. Die antwoord van ’n (naamlose) paleisamptenaar was dat daar nog altyd die koningin se Kerskaartjie is . . .

- Arlene Prinsloo

Arlene foto Arlene Prinsloo is die digitale nasionale inhoudskoördineerder van Digitale Nuus, Media24 Nuus. Daar is min mense wat so baie soos sy van koningshuise oor die wêreld heen weet en daarom is sy Huisgenoot se koninklike blogger.