Die buitensporige duur bottel Glenfiddich  50 jaar oue enkelmoutwhisky wat pas vir R300 000 aan ’n anonieme koper by Makro verkoop is, het wenkbroue laat lig. Dit is egter nie die enigste bottel drank wat al hemelhoë pryse in Suid-Afrika gehaal het nie.

  • Wynliefhebbers sal verras wees om te hoor dat die hoogste prys wat op vanjaar se Nederburg-veiling gehaal is vir 40 jaar oue cabernet sauvignon van Zonnebloem was. Die bod vir ’n houer met drie bottels is op ’n koper van Nigerië vir R22 000 toegeslaan. Dit is gelyk aan net meer as R7 333 per bottel. Die reserweprys was net R1 500 vir die drie. Daar was egter ’n aantal plaaslike en buitelandse kopers wat gretig was om die wyn te bekom en daar is uit verskeie oorde fluks gebie.
  • In ’n verklaring wat Van Ryn verlede jaar uitgereik het blyk dit dat hul  AU.RA-potketelbrandewyn teen R14 000 per bottel verkoop is. Slegs 107 bottels is met die luukse 30 jaar oue fynproewersbrandewyn gevul.
  • Twee jaar gelede is 30 jaar oue Bunnahabhain-whisky teen R4 000 per bottel verkoop, sê Linda Christensen van DKC De Kock Kommunikasie, wat namens Distell navrae hanteer. “Daar was net 17 van die 357 bottels in Suid-Afrika beskikbaar en dis verkoop nog voor dit in die land aangekom het. Die res is reg oor die wêreld verkoop.”

Annaleigh Vallie, woordvoerder van Massmart, wat Makro in Suid-Afrika besit, het gesê die bottel whisky van R300 000 se prys hou verband met vraag en aanbod.

Ekstra bron: Die Burger

Deur Marelize Potgieter