“Ohhhh, lekker commin. Julle altwee se ouers is seker so trots!!!!” het Velani Venter op YouTube oor Snotkop en die model in die video geskryf. Baie reken die snit en video is alles wat verkeerd is met Afrikaanse musiek.

Dié video, wat met ’n blonde vrou se bultende en wippende borste in ’n skamele bikini begin, laat inderdaad deurgans nie veel aan die verbeelding oor nie.

Maar Snotkop, oftewel Francois Henning, kan nie verstaan waaroor die bohaai gaan nie.

“Ja, dit is deur elke TV-stasie afgekeur, maar elke Afrikaanse musiekvideo is deesdae net borste en boude, hoe dan nou? Gaan mense dan nie eens strand toe nie!” het hy aan Huisgenoot gesê oor bewerings in 'n aanlyn JacarandaFM-berig dat die video “te stout” is vir televisie.

Snotkop vertel hy was nog nooit bang om waaghalsig te wees en die grense te verskuif nie.

“Mense weet ek was nog nooit preuts nie,” het die berugte stoutseun in die bedryf aan Huisgenoot gesê.

“Suid-Afrikaners hou mos van bietjie lyf, braai en bier,” skerts hy.

Die model is juis nie skaam om lyf te wys terwyl sy onder meer ’n stewige dubbelkajuitbakkie was, in ’n swembad bier tussen haar borste gooi of ’n vars plaasbrood en die gleuf van haar welbedeelde buuste met stroop smeer nie.

Ons wou weet: Hoe hanteer hy die kritiek?

“Dit is soms moeilik, maar ek is darem al lank in die game, 20 jaar. ’n Mens moet dikvellig wees. Dit is nie net aanhangers wat die video gekyk het nie, dit is ook internet trolls, wat niks goed oor enigiets te sê het nie. Darem is die video al meer as 100 000 keer gekyk, dit sê iets!

Louis du Plessis, Snotkop se bestuurder, het dit beaam.

“Snotkop is al lankal nie meer nét die stoutgat-seun van die bedryf nie,” vertel hy.

Snotkop het baie sukses met sy meer ernstiger en rustiger snitte soos Song vir my dad en Cool soos Koos Kombuis, vermag.

“Vier of vyf jaar gelede sou geen haan gekraai het nie, toe het dit nog by Snotkop se image ingepas,” meen hy.

Louis is verbaas dat die video vir televisie afgekeur is.

“Hulle hoef dit mos nie tussen 7de Laan en die nuus te speel nie! Ek dink elkgeval nie dit is so suggestief of seksueel soos wat hulle dit nou wil uitmaak nie.”

KYK DIE VIDEO HIER (MAAR PASOP, DIS NOGAL WILD!):