Met $250 miljoen (sowat R3,4 biljoen) kan jy meer as net ’n huis koop. Jy kan die akteur Leonardo DiCaprio se jaarlikse inkomste vir amper drie jaar betaal.

Jy kan Vincent van Gogh se Selfportret Sonder Baard of selfs twee Airbus A320neo-passasiersvliegtuie koop.

Maar as jy sou wou, kan jy net die duurste huis in Bel-Air, Los Angeles met daai allemintige bedrag koop.

Volgens die finansiële tydskrif Forbes het die luukse woning vier verdiepings, 12 slaapkamers, 21 badkamers en drie kombuise!

Volgens Bruce Makowsky, wat die huis ontwerp het, het hy hierdie huis gebou sonder ’n koper in gedagte, maar die idee was om biljoenêrs se aandag te trek. En ná net sowat ’n dag in die mark, het hy reeds amper ’n dosyn potensiële kopers gehad.

Die idee was om ’n huis te ontwerp waar mense kan voel hulle wil nooit die huis verlaat nie.

“Mense bring amper die helfte van hul lewe tuis deur,” het hy aan die Amerikaanse televisiekanaal CNBC gesê.

Jy sal nie net die huis self koop nie, maar ook al die luukshede wat daarmee gepaardgaan. Soos die luukse vuurwaens – met ’n waarde van $30 miljoen – en talle duursame kunswerke.

Daar is ook ’n televisiekamer met ’n James Bond-tema en ’n televisie van 9 m.

“Daar is nie ’n manier dat enigiemand ’n slegte dag in hierdie huis kan hê nie,” sê Bruce.