Jim Parsons, ster van The Big Bang Theory, het sy titel as bes betaalde TV-akteur behou.

Die akteur is boaan Forbes se 2016-lysie danksy die sowat R345 miljoen wat hy in die jaar sedert Junie 2015 verdien het; dus bly hy in die topplek wat hy verlede jaar bereik het.

Parson se mede-TV-sterre is nie ver agter nie: Johnny Galecki is in die tweede plek met sowat R325 miljoen en Simon Helberg en Kunal Nayyar in die derde en vierde plekke met sowat R300 miljoen elk.

The Big Bang Theory, wat tans sy 10de seisoen beleef, het Kaley Cuoco, die vroulike hoofspeler, ook gehelp om Forbes se lys van die bes betaalde aktrises ter wêreld uit te klim deur haar tweede in die 2016-oorsig te plaas met sowat R330 miljoen, kort op die hakke van Sofia Vergara van Modern Family.

Die sterre van die bleeksielagtige sitkom het hul hoë plekke verdien ná die heronderhandeling van hul kontrakte in 2014 met die netwerk CBS. Dit het, luidens berigte, Parsons, Galecki en Cuoco sowat R13,5 miljoen per episode in die sak gebring.

Voor die nuwe onderhandelings het Forbes vir Parsons in die negende plek geplaas.

Terug by die akteurs se lysie: Mark Hammon, ster van NCIS, haal die topvyf met R270 miljoen, terwyl Modern Family se Ty Burrell, Jesse Tyler Ferguson en Ed O'Neill se name almal onder die 10 bes betaaldes verskyn en Eric Stonestreet die afsnypunt net-net misloop in die 11de plek.

Die nuwe Forbes-lys bevat ook nog beroemde name, soos Kevin Spacey, David Duchovny en Michael Weatherly.

© Cover Media