’n Oorgewig sjef van Suid-Afrika, wat drie jaar gelede opslae gemaak het nadat Nieu-Seeland se departement van immigrasie gesê het hy is te vet om daar te werk, is terug in Pretoria nadat hy finaal uit Kiwiland geskop is.

[caption id="attachment_115446" align="alignnone" width="600"]Albert Buitenhuis sy en sy vrou Marthie. Foto: Facebook Albert Buitenhuis sy en sy vrou Marthie. Foto: Facebook [/caption]

Hulle is moeg, platsak en op moedverloor se vlakte, beskryf Albert Buitenhuis (53) sy en sy vrou, Marthie (50), se emosies.

Sy nagmerrie het in 2007 begin toe hy gedwing word om ’n afleggingspakket te vat by die reklameagentskap waar hy gewerk het. “Toe pak ons alles wat ons het in ’n vraghouer en klim op die eerste vliegtuig Nieu-Seeland toe.”

Hy het vinnig ’n werk by ’n hotel in Christchurch gekry en later op die dorpie Geraldine.

Lees ook: Smul saam met Die Vet Sjef

Sy visum is jaarliks sonder probleme hernu, maar hul pogings om permanente verblyfreg in die land te kry het na ’n lang geveg met die owerheid in 2013 finaal misluk.

Weens sy gewig loop hy gevaar van mediese komplikasies wat druk op die land se gesondheidsdienste sal plaas, is daar vir die man gesê wat toe die skaal op ’n stewige 130 kg getrek het.

Lees ook: Vet Sjef se geheime familieresep – Magogo se hoenderkerrie

“Kyk, ek was nog altyd groot. Ek was ’n dik boerseun en is vandag ’n vet sjef. Maar met my gesondheid skort daar niks,” sê Albert half ergerlik.

Hy het by ’n plaaslike parlementslid om hulp gaan aanklop wat vir hulle ’n visum vir nog 23 maande gekry het.

Lees ook: Vet Sjef wys jou hoe om potbrood sonder knie te maak

Die immigrasiedepartement wou egter nie bes gee nie. “Hul redes toe was dat ek nie ’n bona fide werker is nie en dat my werkgewer nie genoeg moeite gedoen het om ’n Kiwi aan te stel nie,” sê Albert.

“Ons moes teen einde Desember landuit.”

[caption id="attachment_115451" align="alignnone" width="600"]Albert en Marthie se geliefde kat, Mavis Buitenhuis. Foto: Facebook Albert en Marthie se geliefde kat, Mavis Buitenhuis. Foto: Facebook[/caption]

Hulle het al hul besittings wat hulle in die agt jaar daar bymekaargemaak het, verkoop om die vliegkaartjies terug na Suid-Afrika te bekostig. Maar vir hul geliefde kat, Mavis, was daar nie geld nie.

“Die storie was groot in die media daar. Toe begin ’n vriendin met ’n geldinsamelingsveldtog en vinnig was daar die R30 000 vir Mavis se vervoer.”

Die kat, wat haar eie Facebook-blad het, het ’n week later in Johannesburg geland.

Die toekoms lyk duister, sê Albert in ’n somber stem. Hulle woon nou by familie, maar sonder geld “is dit maar moeilik”.

Omdat hy nie vervoer het nie, het hy die afgelope twee weke ook nog nie ’n werk gekry nie. “Maar as iemand vir my ’n taxi stuur, sal ek by hul privaat partytjies of geleenthede kom kook,” sê hy hoopvol. Nog ’n moontlikheid is om van sy eie souse en speserye deur middel van ’n webtuiste te bemark.

“Maar nou durf ons maar net elke dag so op sy eie aan.”

– Jaco Hough-Coetzee