Hy vertrek Woensdag na Londen en Armand sê hy hoop hy kan Suid-Afrika net so trots maak soos toe Rolene Strauss die Mej. Wêreld-kroon einde 2014 huis toe gebring het “Sport het die grootste deel van my voorbereiding uitgemaak omdat ek geweet het daar is soveel sportuitdagings wat kom,” sê hy. Net soos in die Mej. Wêreld-wedstryd moet die Mnr. Wêreld-deelnemers aan verskeie kleiner wedstryde deelneem om punte bymekaar te maak en só hul plek in die top-15 te verseker. “Daar was dus baie vroegoggend-gimsessies; ek het geswem, gehardloop en CrossFit gedoen. Dis al die fisieke voorbereiding wat ek gedoen het.” Armand, ’n kandidaatprokureur in Roodepoort, sê hy het die afgelope ruk tot omtrent vier uur per dag in die gimnasium deurgebring. Maar behalwe die harde oefening moes hy ook ekstra mooi na sy eetgewoontes kyk en hy volg ’n hoëproteïendieet.

A photo posted by Armand Du Plessis (@armanddup) on

“In die oggend sal ek hawermout eet en dan ’n eierwit-omelet. Dan sal ek byvoorbeeld ‘chicken-ham’ eet, ryskoekies, hoenderborsies en soetpatats. Snags sal dit maalvleis, basmatirys en groente wees.” Armand lag wanneer hy sê hy is al ’n bietjie uitgeëet aan dié gesonde kos. Boonop het hy eintlik ’n groot voorliefde vir soetgoed. “Wat vir my moeilik was van dié dieet, is soos byvoorbeeld nou in die Kaap -- ek land, dan moet ek my kossies vir my gaan koop en dan moet ek vir die hotel vra om dit vir my voor te berei. Dit is nogal ’n opoffering en verskriklik baie moeite.”

A photo posted by Armand Du Plessis (@armanddup) on

Armand moet in sy twee tasse tien pare skoene inpak, oefentekkies ingesluit, tien netjiese pakke, gumboots vir die talentkompetisie en ’n groot koffietafelboek oor die Springbokrugbyspan wat tydens die wedstryd opgeveil gaan word. “Baie mense dink Mnr. Wêreld is ’n liggaamsbou-kompetisie; dat dit gaan oor die een wat die frisste gebou is of die ou wat die grootste six pack het. Dit is nie so nie.” Volgens Armand is die fokus hoofsaaklik op liefdadigheid en ’n gebalanseerde leefstyl. Hy meen ook mense dink maklik alles word “net op ’n silwer skinkbord aan jou oorhandig” as jy die Mnr. Suid-Afrika-serpie oor jou skouers hang.

A photo posted by Armand Du Plessis (@armanddup) on

“Toe ek wen, is ek aan die diepkant ingegooi. Jy moet regtig uitgaan en jou eie borge gaan soek. Jy moet jou eie liefdadigheidsorganisasies identifiseer waarmee jy wil werk. Jy moet self vir jou geleenthede skep waar jy kan. Ek moet sê, dit was baie harde werk om daardie geleenthede vir jouself te skep.”

Hy sê mense is nie noodwendig meer so bewus van die Mnr. Suid-Afrika soos 10 jaar gelede nie en het amper “vergeet” die wedstryd bestaan. “Ek moes daarom soveel harder werk om vir mense te sê en te wys daar is nog so ’n wedstryd.”

Die gala-geleentheid vind op 19 Julie plaas en sal op die Mr World-YouTube-kanaal uitgesaai word.