Catherine se geboorte-suite sal onder meer sjampanje, luukse toiletware en ’n verstelbare gemakstoel hê. Haar en prins William se eersteling word op 13 Julie verwag en sy gaan blykbaar in die Lindo-vleuel van die St. Mary-hospitaal in Londen kraam. William (1982) en sy broer, prins Harry (1984), is albei in dié vleuel gebore.

Die suite kos net onder R100 000 vir die eerste nag en R33 000 vir elke aand daarna. Ginekoloë, pediaters, vroedvroue, verpleegsters, borsvoedingskonsultante en kinderverpleegsters sal ook byderhand wees. As enigiets verkeerd loop, sal Catherine onmiddellik na die St. Mary-hospitaal langsaan oorgeplaas word.

Die suite het ook satelliet-TV, Wi-Fi, ’n radio en ’n kluis en ’n vars ruiker sal elke dag afgelewer word. Die kamervensters is uitgevoer met donker gordyne vir totale privaatheid. Wanneer die baba gebore is, sal top-kokke gereedstaan om vir Kate ’n spogmaal te berei.

Ondanks vrese vir die baba se veiligheid, gaan Catherine en die pienkvoet die eerste ses weke ná die geboorte by haar ouers, Carole en Michael Middleton, bly in hul herehuis in Berkshire, in die suidooste van Engeland. Catherine het al vantevore te kenne gee dat sy “op haar veiligste voel” in haar ouers se huis.