’n Jong aktrise wat die karakter van ’n molesteringslagoffer in die komende fliek Dis Ek, Anna, vertolk, was so geraak deur hierdie rol dat sy nou besluit het om self ’n verskil in die lewe van ander kinderslagoffers te maak.

[caption id="attachment_107830" align="alignnone" width="600"]Kara in die ateljee besig met stemwerk aan Dis Ek, Anna. Kara in die ateljee besig met stemwerk aan Dis Ek, Anna.[/caption]

Kara van der Merwe (14), ’n graad 9-leerling van Potchefstroom Gimnasium, is die dryfveer agter die Sit Jou Voet Neer-veldtog op sosiale media met die boodskap dat kinders wat vasgevang is in ’n siklus van seksuele geweld nie alleen is nie.

In die fliek, wat vroeg vanjaar verfilm is, speel Kara Carli, Anna se stiefsussie, wat ook deur haar pa gemolesteer word.

Kara vertel haar ouers, Mariza van der Merwe en Leon Engelbrecht, het haar voor die tyd deeglik op die traumatiese gegewe in die fliek voorberei.

“Hulle het vir my verduidelik hoe belangrik dit is dat dié storie, wat op die werklikheid gegrond is, vertel moet word sodat kinders wat die hel van seksuele mishandeling ervaar, kan weet stilswye is nie die enigste opsie nie,” sê Kara.

“Baie van die gevalle word nooit aangemeld nie, en dan kan die kinders nie gehelp word nie.”

In haar veldtog nooi sy nou die publiek om kreatiewe foto’s van hul voete te neem, en dit dan op sosiale media te plaas met die beskrywing #sitjouvoetneer.

Na dié bewusmakingsveldtog gevestig is, wil sy geld begin insamel vir slagoffers.

Haar veldtog het die vervaardiger van Dis Ek, Anna, Niel van Deventer, so beïndruk dat dit nou deel geword het van die fliek se nasionale bemarkingsveldtog.

Die fliek word einde Oktober uitgereik.

Só kan jy deelneem:

  • Kara se Sit Jou Voet Neer-veldtog is nou op soek na gepaste lirieke vir ’n amptelike liedjie vir die veldtog, en almal kan hieraan deelneem.
  • Die liedjie moenie langer as 150 woorde wees nie en iets sê oor die erns van seksuele geweld teen kinders, maar ook ’n boodskap van hoop uitdra.
  • Die weninskrywing sal getoonset word deur Anton Pottas, dirigent van die Noordwes-Kinderkoor. Die koor sal dit ook tydens die Aardklop-kunstefees sing.
  • Stuur jou lirieke voor 7 September aan sitjouvoetneer@gmail.com.

Jaco Hough-Coetzee