Duisende mense sal op 23 November in Johannesburg byeenkom vir die agtste jaarlikse Sisters with Blisters-staptog.

sisters for blisters

Passievolle mense sal kragte saamsnoer om saam standpunt in te neem teen geslagsgegronde geweld – iets wat gans te algemeen in ons land voorkom. Die staptog lok elke jaar meer as 5 000 deelnemers.

Zelda la Grange, ’n beskermvrou van die 1st for Women-trust, sê: “Suid-Afrikaners moet ophou praat oor mishandeling en iets daaraan begin doen.”

Die verkragting, marteling en mishandeling van vroue is nie ongewoon nie. Die geleentheid is dus ’n doelgerigte en verenigde optrede teen die onreg wat vir baie mense in ons land elke liewe dag ’n werklikheid is.

Die geleentheid lui die veldtog 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders in.

Met die staptog teen die grusame skending van menseregte het Sisters with Blisters die afgelope agt jaar al meer as R2 miljoen ingesamel. Die geld is geskenk aan organisasies wat ’n daadwerklike verskil maak in die lewe van mense wat deur mishandeling geraak word.

Vanjaar sal die volle opbrengs van Sisters with Blisters aan Women and Men against Child Abuse en die Sonke Gender Justice Network geskenk word.

Sluit aan, kry jou stapskoene gereed, raak fiks en maak ’n verskil. Staan op teen die uitbuiting wat ons susters, ma’s, kinders, tantes, niggies, oumas en vriendinne verduur.

1st for Women Insurance en Jacaranda FM borg die geleentheid, wat op 23 November by die Blue Hills Country & Equestrian Estate in Kyalami plaasvind.

Registreer op www.sisterswithblisters.co.za en soek op Twitter na #GBV, #VAW, #women, #16days, #domesticviolence, #sayucommit, #genderviolence, #womensright, #StopRape, @SonkeTogether, @firstforwomen en @jacarandafm.

Faiza Mallick

Bron: Persverklaring van Sisters with Blisters