Die voorval het Saterdag gebeur toe die baba en sy ma die sirkus besoek op die Franse dorp Megève, in die suidooste van die land.

Die seun was in ’n baba-drasak en sy ma het na die kameel in sy omheining gekyk toe dit skielik die seun byt.

“Ons het dit nie gevoer of vertroetel nie,” het die ma aan die plaaslike koerant Le Dauphiné Libéré gesê.

Sy het gesê die kameel se onderlip was by haar seun se voorkop en die bolip by sy agterkop.

Die baba verkeer nie in lewensgevaar nie.

Die ma het aan die koerant gesê hy het “meer as een fraktuur” opgedoen, maar “daar behoort nie enige gevolge te wees nie”.

Die polisie het die ma hoor skree en noodpersoneel ontbied.