Sir Paul McCartney het personeel verbied om vleis te eet en Facebook te besoek tydens die verfilming van ’n nuwe bemarkingsvideo.

Die 71-jarige musiek-ikon is sy lewe lank ’n ondersteuner van diereregte. Hy het tydens die verfilming van die video vir sy nuwe liedjie, Queenie Eye, sy produksiespan verbied om kerriehoender te eet. Hulle is ook verbied om die webtuistes van sosiale netwerke te besoek en nievoorskrif-medisyne te gebruik.

’n Bron het aan The Sun gesê: “Dis as ’n grappie bedoel, maar jy het nogtans in die moeilikheid beland as jy die kennisgewing ignoreer het.

“Enigeen wat betrap is dat hulle Twitter of Facebook besoek of aan ’n hamtoebroodjie gekou, is dadelik weggewys. Dwelmgebruik is dalk moeiliker om te bewys, maar nogtans . . .”

Die Beatles-legende verfilm die video by die Abbey Road Studios in Noord-Londen. Johnny Depp en Sean Penn is op sir Paul se versoek deel daarvan, en hul kameë is ook daar verfilm.

Die sanger het ook glo vroeër vanjaar op sy Kanadese toer sy personeel versoek om nie vleis te eet nie. Hy het seker gemaak die werkers by Mosaic-stadion, waar hy opgetree het, kry vegetariese spyskaarte.