Will Smith en sy vrou, Jada Pinkett Smith, is glo vir ’n proeftydperk uitmekaar.

Die Hollywood-egpaar, die ouers van Jaden (15) en Willow (12), is in Augustus laas saam gesien. Ingeligtes beweer hul huwelik van 15 jaar is in die moeilikheid en hulle woon glo nou apart om die spanning tussen hulle te verlig.

’n Bron het aan die Daily Mirror gesê: “Hul huwelik is altyd as een van die sterkstes in Hollywood beskou, maar dit lyk nie die afgelope ruk so nie. Dit lyk al maande lank of daar spanning is.”

Will (45), wat ook ’n seun, Trey (19), het by sy eerste vrou, Sheree Zampino, bly sedert September in New Orleans, waar hy aan die rolprent Focus werk. Hy sal tot einde November daar wees.

Jada het Parys, Frankryk, onlangs saam met haar dogter en haar ma, Adrienne Banfield-Brown, besoek. Volgens RadarOnline.com het die 42-jarige aktrise met haar terugkeer van Europa by haar broer, Caleeb, se huis in Kalifornië ingetrek.

Die egpaar het nog niks oor die bewerings gesê nie, maar Will se ma, Carolyn Smith, het aan die webtuiste gesê: “Is dit nie persoonlik nie? . . . Dankie vir jul besorgdheid.”

Daar loop al maande lank gerugte dat die twee se huwelik wankel en in April het die Hawthorne-ster gesê sy en haar man kan “wat hulle ook al wil” in hul huwelik doen.

Sy het in ’n ope boodskap op Facebook gesê: “Ek en Will kan albei doen wat ons ook al wil, want ons vertrou mekaar. Dit beteken nie ons het ’n oop verhouding nie. Dit beteken ons het ’n volwasse een.”

Vroeër vandeesmaand, by die Associated Black Charities of Baltimore Girls’ Night Out- geleentheid, het Jada na ’n “storm” in die huwelik verwys. Volgens iemand in die gehoor het sy gesê: “Wanneer jy en jou eggenoot ’n storm beleef . . . hou op dink oor wat jy dink ’n man of vrou moet wees.”