Sjoe, dit lyk of die sterre op ’n string skeihof se kant toe staan.

Nicole (46) is glo groen van jaloesie omdat haar man alte lekker flankeer met ander vroue, en dit help ook nie dat hulle die afgelope ses maande op verskillende vastelande is met dié dat hy ’n beoordelaar is op die werkilheidsangkompetisie American Idol is nie, beweer die Amerikaanse tydskrif Star. Keith (46) skiet twee dae per week aan die reeks in Amerika en vlieg in sy aftyd Australië toe om Nicole en hul twee dogters, Sunday (5) en Faith (3), in Sydney te gaan besoek, waar hulle woon.

Volgens Star het die paartjie glo nie ’n sekslewe nie en is Keith nie gelukkig oor sy vrou se voorliefde vir botoks-inspuitings nie. Intussen voel Nicole soos ’n enkelma. Sy is glo ook lekker vies omdat haar man besluit het om sy toerskedule te verleng – en dit terwyl sy onder die indruk was dat hulle die res van die jaar saam by hul huise in Sydney enNashville, Tennessee, sou uitspan. “Dis nie maklik vir haar om haar skedule oop te hou nie omdat sy so baie werk, maar sy het,” verklap ’n skindertong. “Dit is hoekom sy woedend is dat Keith besluit het om weer te toer. Sy het vir hom gesê dit wys hoe hy voel oor hul huwelik. Sy is verpletter.”

Nicole, wat voorheen getroud was met die akteur Tom Cruise (51), is glo ook doodbang dat sy weer deur ’n egskeiding sal moet gaan. “Sy kry nagmerries dat sy weer alleen gaan wees, veral nadat Tom haar so seergemaak het toe hy haar los,” verklap iemand in die binnekring. “Sy vrees vir wat dalk vir haar voorlê.”

Sjoe, ons wonder of die gerugte waar is? Wel, ten minste het Tom glo weer rede om breed te glimlag. Volgens gerugte het Tom, die bekendste Sciëntoloog in Amerika, ’n nuwe liefie aan sy sy: die aktrise Laura Prepon (34) van die televisiereeks That ’70s Show. Laura is ook ’n Sciëntoloog. Sy skiet tans aan die tweede seisoen van die Netflix-trefferreeks Orange Is the New Black.

Sy het intussen die gerugte oor hul verhouding afgeskiet. “Dis so snaaks; wanneer mense niks weet nie, suig hulle goed uit hul duim. Die jongste is dat ek glo met Tom Cruise uitgaan,” sê sy. “En hy wil glo nie hê ek moet die reeks doen nie, want ek speel ’n lesbiër en ek is ’n Sciëntoloog. Dit is vals; waar kry hulle dié nuus? Dis ongelooflik.”

Lara Atson

BRONNE: SHEKNOWS.COM, CLASSICALITE.COM, CELEBRITYLAUNDRY.COM