Simon Cowell wil sy eersteling as lid van ’n “behoorlike gesin” grootmaak en kan glo selfs oor ’n paar jaar sy loopbaan op die agtergrond skuif.

Simon se meisie, die sosiale vlinder Lauren Silverman (36), is onlangs van Andrew Silverman geskei, maar verwag reeds die mediabaas (53) se kind. Die paartjie wil glo hul baba “behoorlik” grootmaak.

’n Ingeligte het aan Sunday People gesê: “Simon het nooit verwag so iets sou gebeur nie. Hy het soms gesê hy wil kinders hê, maar nooit regtig geglo dit sal gebeur nie.

“Nou het dit gebeur, en hy wil die geleentheid met albei hande aangryp en ’n behoorlike pa wees. Dit beteken om saam met Lauren te bly en ’n ware gesin te wees.

“Hy wil ’n goeie pa wees, soos hy sy eie pa beskou. Hy wil doen wat sy ouers vir hom gedoen het. Hy weet hoe belangrik ’n stabiele huis vir ’n kind is.”

Daar word ook gesê dat die paartjie nie die moontlikheid van ’n huwelik uitsluit nie, maar die TV-magnaat se hoofprioriteit is om na Lauren en hul ongebore baba om te sien.

Die bron het bygevoeg: “Simon sal niks ontsien om seker te maak dat dit gebeur nie, en dit beteken hy en Lauren sal saambly en ’n behoorlike verhouding hê.

“Wie weet, miskien trou hulle. Sy prioriteit op die oomblik is om Lauren te versorg en seker te maak sy het alles wat sy nodig het. Hy kyk regtig mooi na haar.”

Intussen word berig dat Simon heeltyds pa wil wees en sy loopbaan op die agtergrond wil skuif wanneer hy 60 word.

’n Vriend het aan die Sunday Mirror gesê: “Dis moeilik om Simon voltyds by die huis voor te stel, want sy werk was nog altyd sy lewe. Maar hy sê dit sal binne ’n paar jaar tyd wees om sy werk opsy te skuif.

“Hy het alles wat hy kon bereik met sy merkwaardige loopbaan. En hoewel hy nie haastig is om dit prys te gee nie, sien hy daarna uit om heeltyds pa te wees.”