Simon Cowell beplan om met Lauren Silverman te trou nadat sy die lewe aan hul eersteling geskenk het – om sy ma tevrede te stel.

Die 54-jarige mediamagnaat se ma, Julie (87), wou glo nog altyd hê hy moet nesskop. “Simon se ma het nog altyd daarvan gedroom dat hy sou nesskop en hy wil baie graag hê sy ma moet ’n kernrol vervul op die dag van die troue,” het ’n bron aan die koerant The Sun gesê.

Lauren is onlangs geskei van die skatryk eiendomseienaar Andrew Silverman, by wie sy ’n sewejarige seun, Adam, het. Nou het sy ingestem om volgende jaar te trou in ’n kerk naby Julie se huis in Sussex, Engeland. Die New Yorkse sosiale vlinder beplan ook ’n seremonie in Amerika wat haar vriende kan geniet.

Die troue gaan glo ’n intieme affêre wees en daar sal net ’n paar bekendes op die gastelys wees, onder wie die Louis Walsh, ’n beoordelaar op The X Factor, die hipnotiseur Paul McKenna, sir Philip Green, eienaar van Top Shop, en Simon se eksmeisie Sinitta.

Simon het vroeër vandeesmaand ’n reeks kriptiese boodskappe op Twitter geplaas waarin hy aanhangers belowe het daar kom binnekort opwindende nuus, en volgens gerugte is dit die aankondiging van sy verlowing.

Hy het op die sosiale webtuiste geskryf: “Opgewonde om binne die volgende paar weke ’n nuusbrokkie te deel. Ek voel op die oomblik baie optimisties. Dit was harde werk, maar niks moet te maklik wees nie. Jy kan jou bemoei met ander mense se mislukkings of jy kan konsentreer op jou eie foute en hard werk om seker te maak jy herhaal dit nie. Harde werk en fokus gee jou ’n kans om dinge om te swaai. Dis hoe ek nou voel.”