Toe die Survivor-deelnemer Simon Coetzer na ‘n maand in die Maldives na Suid-Afrika terugkeer, was baie van sy vriende geskok.

Hy het in net 17 dae 10 kg verloor.  “Ek het vir my vriende en kliënte gesê ek gaan vir ‘n maand Doebai toe vir sake. Maar toe ek bruingebrand en uitgeteer terugkeer, het hulle vermoed ek is siek of was in die tronk!’’ sê hy laggend.

Liggaamlik was een van die sterkste deelnemers aan die spel, maar

Donderdagaand is sy fakkel uitgedoof ná net 17 dae op die eiland.

Die 40-jarige menslike hulpbronkonsultant van Johannesburg het die elfde uitgeworpene geword nadat hy met vyf stemme uitgestem is teenoor die vier van sy mede-deelnemer Tejan Pillay. En dit ná die eerste individuele immuniteitsuitdaging nadat die twee bestaande stamme saamgesmelt het om Eku te vorm.

Maar ondanks die ontberings op die eiland was Simon verslae dat hy uitgestem is. “Ek het aan die kompetisie deelgeneem om dit te wen,” sê die Survivor-aanhanger wat nog altyd daarvan gedroom het om aan die kompetisie deel te neem. “Ek weet ek was ‘n sterk mededinger en ‘n bedreiging, en ek  het begrip vir my stam se stem. Ek wens net ek kon ‘n bietjie langer gebly het,” sê hy effe hartseer.

Terwyl sy rustige geaardheid hom onder baie van sy Goma-stammaats geliefd gemaak het, het die voormalige Raithun-stam hom as ‘n bedreiging beskou. Maar die feit dat hy afgestem is, het Simon die oorhand gegee – dié keer as deel van die jurie wat moet bepaal watter deelnemer die groot prys van R1 miljoen verdien.

“Survivor is ‘n spel van sosiale dinamika, en die feit dat ek in menslike hulpbronne is, het my gehelp om die ander deelnemers se spelplanne beter te verstaan,” sê hy. “Ek dink dis so ‘n toets van verstandsgimnastiek om iemand te verraai en uit te stem, en dan moet daardie selfde mens vir jou te stem om ‘n miljoen rand te wen as jy in die laaste twee is; ek is dol daaroor!”

Sy lugdigte bondgenootskap met Alison de Chazal, Sean September en MXO het in ware vriendskappe ontwikkel. “Ek het met al hierdie mense bondgenootskappe en vriendskappe gesmee en ek sien daarna uit om weer met hulle te praat.”

As ‘n mens so na Simon se lyf kyk, sal jy nooit sê hy is 40 nie. Maar al het hy in baie van die liggaamlike uitdagings uitgeblink, was dit ‘n “oumansiekte” wat hom eindelik ondergekry het. “Op die program het ek ‘n pynlike voetbesering gehad,” vertel hy. “Ons het almal gedink dit is ‘n breuk of ‘n infeksie. Maar toe ek eers uit die kompetisie is en die dokter besoek, het ek gehoor dis jig!”

Hy skryf die kwaal daaraan toe dat hy op die eiland so vinnig gewig verloor het. “My deelname aan Survivor het regtig my eetgewoontes verander,” sê hy. “Ek eet nou kleiner porsies, want ek het besef die menslike liggaam kan op absoluut geen kos oorleef, en ek het daarom ‘n gesonder leefstyl aangeneem.”

Wanneer hy oor die lewe op Goma-eiland praat, is dit duidelik dat dié gemaksdier bly is om weer by die huis te wees. “Dit was onmoontlik om te rus, want ons moes op harde sand slaap en ons eiland was in ‘n windtonnel. Ons moes onsself letterlik tot op ‘n punt van liggaamlike uitputting ooreis om te kon slaap en party aande het ek, MXO en Sean eenvoudig wakker gebly en ‘n komedie-uur gehou in ‘n poging om ons aan die slaap te lag!”

Al is hy spyt dat hy nie verder in die kompetisie gevorder het nie, is hy dankbaar vir die respek wat sy mede-stamlede hom betoon het. “Toe my fakkel uitgedoof word, het almal in die Eku-stam opgestaan en vir my hande geklap. Dit beteken vir my dat al was die uitskakeling ‘n bitter pil om te sluk, is ek in die spel as ‘n eerlike en formidabele speler gerespekteer.”

Al was sy vertrek dalk ‘n teleurstelling, is Simon bly dat hy die kans gehad het om aan Survivor deel te neem. “Dit het my ‘n nuutgevonde waardering gegee vir wat regtig in my lewe saak maak,” sê hy. En dit beteken hy gaan eindelik nesskop saam met sy verloofde van die afgelope tien jaar en met ‘n gesin begin.

“Ek is dankbaar dat ek so ‘n ondersteunende maat het wat my toegelaat het om vir Survivor in te skryf en vir ‘n maand van haar af weg te wees. Maar nou wil sy net trou en ek is ook gereed daarvoor,” sê hy.

En al sal hy dalk alles in ‘n oogwink laat staan om weer aan Survivor deel te neem, moet ons maar wag en sien of die lewe as ‘n gesinsman Simon in die nabye toekoms van plan laat verander.