Die platebaas Simon Cowell het leerders aangeraai hulle moet nutteloos wees op skool en hoop op ’n gelukslag.

Die TV-magnaat, wat glo al ’n fortuin van meer as R3,3 biljoen uit sy platehandelsmerke en talentprogramme verdien het, sê hy het nie kleintyd vinger getrek nie, maar later hard gewerk. Hy het ook erken, as jy jou op die regte tyd op die regte plek bevind, kan dit die deurslag gee.

Hy het aan die Amerikaanse radiostasie Z100 gesê: “Ek het nie hard gewerk toe ek op skool was nie. Ek het op 16 die skool verlaat en ek het geen kwalifikasies gehad nie.

“Ek was nutteloos. Die geheim is om op skool nutteloos te wees en dan ’n gelukslag te tref.”

Die 54-jarige ster het baie foute gemaak nadat hy begin sake doen het. Hy moes weer by sy ouers intrek toe hy swaarkry. Maar hy is dankbaar oor sy mislukkings, want hy het daaruit geleer.

Hy het bygevoeg: “Aan die begin maak jy baie foute en hoop net jy leer daaruit.”

Maar voorstanders van opvoeding het Simon geroskam oor sy “gevaarlike” raad aan leerders.

Die Britse politikus Michael Pavey sê opvoeding is “uiters belangrik” en meen die The X Factor-baas, wie se meisie, Lauren Silverman, na verwagting in Februarie hul eerste kind gaan kry, stel ’n swak voorbeeld.

Hy het gesê: “Ek dink Simon Cowell was gelukkig. Dis een uit ’n biljoen wat so ’n kans kry.

“Die res van ons moet hard werk saam met ons onderwysers. Enigiets wat jong mense ontmoedig om die beste van hulself te maak is ’n ramp.”