Simon Cowell sing self op die Amerikaanse X Factor.

Die musiekbaas het toe eindelik self op sy program gesing. Sy medebeoordelaar Kelly Rowland het hom tydens oudisies in Denver, Colorado, oorreed toe hy ’n deelnemer se weergawe van die 1940-liedjie, Fools Rush In, gekritiseer het.

Die beoordelaar Demi Lovato het ná die item gesê: “Jy klink soos Simon sal klink wanneer hy sing.”

Kelly het toe vir Simon (53), wat die dag se oudisies die slegste tot dusver genoem het, aangepor om die liedjie self te sing.

Simon, wat altyd gesê het hy sal nooit in die openbaar sing nie, het uit volle bors losgetrek. Die beoordelaars Paulina Rubio en Demi het sy poging as “bekoorlik” bestempel.

“Ek het altyd geweet daardie stem is daar,” het Kelly gesê.

Die aflewering waarin Simon sing, word 12 September in Amerika en op 20 September op ITV2 in die VK uitgesaai.

Simon, wie se meisie, Lauren Silverman, ’n Amerikaanse sosiale vlinder, hul eersteling verwag, het geskerts dat hy dalk ’n paar kinders oral ter wêreld het. “Daar is ’n paar sulke gerugte,” het hy gelag.