Dit het vir Simon Cowell gevoel asof hy gemartel word tydens een van sy meer drastiese skoonheidsbehandelings.

Dié grootbaas van die musiekwêreld was altyd trots op sy voorkoms en sy spesiale styl, en hy het jare lank alle soorte vertroetelingsprodukte en -sessies beproef om ’n jeugdige voorkoms te behou. Ná ’n besonder verspotte sessie met ’n terapeut het die 56-jarige besef hy sal moet briek aandraai met sy regime.

“Ek lees graag oor nuwe produkte en behandelings, en dan glo ek dit sal werk,” het hy teenoor The Mirror gebieg. “Eenkeer, jare gelede, het ek ’n meisie in LA ontmoet wat my eers in kleefplastiek en daarna in tinfoelie toegedraai het nadat sy my met allerhande olies bedek het. Dit sou glo my liggaam ontgif. “Daarna het sy my tuis in ’n buis gesit, my ’n uur lank daarin toegesluit en my vertel waarvan sy hou van The X Factor en waarvan nie. En, aangesien sy halfdoof was, het sy letterlik op my geskree. Ek het ná omtrent twee maande besef dit was eintlik ’n marteling. Dit was malligheid.”

Ek het selfs eenkeer ’n gesigbehandeling met die plasenta van ’n skaap gekry

Maar dit was die einde van Simon se belangstelling in eksperimentele tegnieke nie. Hy is, omring deur ’n skare pragtige meisies, onder wie die sangeres Sinitta, aangemoedig om allerhande soorte goed op die proef te stel.

“Ek het selfs eenkeer ’n gesigbehandeling met die plasenta van ’n skaap gekry, maar dit was heeltemal buitensporig,” het hy voortgegaan. “Toe raai Sinitta my aan om ’n ontgiftingsmasjien te beproef. Hierdie affêre duik toe op in my slaapkamer en dit was soos iets uit Dr. Who. Dit was asof ’n ruimteskip in my slaapkamer geland het. Die kêrel kom daar aan, sluit my in die ding toe en verwyl die volgende 90 minute voor die TV.”

Simon het ook, benewens terapeutiese behandelings, botoks gebruik. Die gewese beoordelaar van The X Factor het geskerts sy gesig was so vol botoks dat hy dit nie kon beweeg nie, en hy erken dat hy sy beheptheid met jonk lyk in ’n stadium te ver gevoer het.

“Ek lyk hopelik nou beter; ek het ’n paar jaar gelede miskien ’n bietjie te veel botoks gebruik, want almal in die TV-bedryf gebruik dit,” het hy bygevoeg. “Ek kry nou gesigsbehandelings, maar niks buitensporigs nie.”

Simon het ook onthul hy kry gereeld vitamieninspuitings, wat vitamien B12, vitamien C en magnesium bevat. ’n Verpleegster besoek sy huis en koppel hom vir ’n halfuur aan ’n drup wat dié vitamiene bevat.

© Cover Media