Simon Cowell wil in 2014 meer luister en gouer vergewe.

Die musiekbaas is vasbeslote om vanjaar ’n beter mens te wees, en het sy Nuwejaarsvoornemens Vrydag (10 Januarie) op Twitter bekendgemaak.

Hy skryf: “My Nuwejaarsvoornemens: Gee raad; moenie preek nie. Luister meer as praat. Geluk is meer pret as woede. Vergewe en moenie broei nie.

“Wees altyd gaaf teenoor kinders en diere. Jou ma is gewoonlik reg. En moet nooit Maandae vrees nie. Die meeste mense jonger as jy, weet ook beter as jy.”

Simon (54) se meisie, die New Yorkse sosiale vlinder Lauren Silverman, verwag volgende maand ’n seuntjie. Die baba sal glo na sy pa genoem word. Simon is vasbeslote om nie voor sy kind te rook nie.

“Ek probeer elektroniese sigarette rook; hulle is nie sleg nie,” sê hy, “maar matigheid sal beter wees.”

Hy voeg by: “Baie vervelige dinge gebeur wanneer iemand ’n baba kry. Jy moet ontslae raak van skerp kante, sigarette, alkohol . . . en die toilet moet beveilig word. Maar ek gaan ’n rookkamer in my huis hê!”