Simon Cowell weet nie wat hy sou doen as sy seun hom sou vra om sy “ergste swakheid” te los nie.

Die grootbaas van musiek trek al jare lank dik skywe – trouens, hy het op 'n kol 40 sigarette per dag gerook. Sedert hy en sy maat, Lauren Silverman, op Valentynsdag (14 Februarie) 2014 hul seun Eric verwelkom het, het die 56-jarige pa probeer om minder te rook. Hy is egter nie seker dat hy die rokery vir goed sal kan stopsit nie.

“Ek het afgeskaal,” het hy aan die Britse nuusblad The Mirror, gesê. “As Eric groot is en hy sê ek moet die rokery stopsit, weet ek nie wat ek gaan doen nie. Ek rook nie in sy nabyheid nie en ek sal dit ook nie doen nie. Ek het al gewonder wat hy oor 'n paar jaar gaan sê. Dit is my ergste dwaling.“

Simon het bygevoeg dat hy nou, sedert hy pa geword het, net 10 sigarette per dag rook. Daar kom egter dae wanneer hy lus voel om meer te rook, veral gedurende die beoordelingsproses van sy gewilde talentskou The X Factor. Louis Thomlinson, van One Direction, gaan hom vanjaar by Simon aansluit om die finale optredes te kies en hy het aan die sanger gebieg oor hoe moeilik dit is om op te hou rook.

“Ek het aan Louis gesê, ‘Dit is die een ding wat ek baie moeilik gaan opgee want ek is lief vir 'n sigaret’” het hy gesê. “'n Sigaret en 'n bier.”

Simon gee toe dat hy al 'n hele paar veranderinge ondergaan het sedert Eric in sy lewe gekom het. Hy was voorheen bekend daarvoor dat hy nie nonsens gevat het as hy op die uitkyk was vir talent nie, maar die ster beken dat sy seun hom sagter gemaak het.

“Eric het 'n yslike verskil gemaak wat ek nie verwag het nie," het hy geglimlag. “Dit is so baie pret om hom te hê.“

Simon het sedert sy seuntjie se koms gereeld met hom gespog. Hy het verlede jaar erken Eric het sy huis op so baie maniere verander.

“Daar is seker 'n nuwe bron van energie, ja,” het hy aan die Ierse Mirror gesê. “Dit voel beslis meer na 'n tuiste. Daar is definitief 'n aangenamer atmosfeer.”

© Cover Media