Simon Cowell het Sinead O’Connor genooi om ’n gasbeoordelaar op The X Factor te wees.

Simon (54) het die sangeres op Twitter genooi om ’n beoordelaar op die musiekprogram te wees. Sy het net dae tevore gesê Simon en sy medebeoordelaar, Louis Walsh, het musiek deur The X Factor vermoor. Hy het getwiet: “Ek dink Sinead O’Connor sal ’n prettige gasbeoordelaar op X Factor wees. Sy hou van die program en alles wat ek doen. Laat my weet, Sinead.”

Sinead het die afgelope week op die Ierse geselsprogram The Late Late Show verskyn. Sy het gepraat oor haar vete met Miley Cyrus en uitgevaar teen Simon, Louis en The X Factor.

Sy het gesê: “Ek voel nie in hierdie saak jammer vir myself of enigiemand anders nie, dis nie waaroor dit gaan nie. Dit gaan oor die groter saak: Ek is spyt oor die moord op musiek. Ek voel spyt oor die moord op rock ’n roll, wat weens hierdie bedryf gebeur het. Deur Simon Cowell, Louis Walsh en die hele klomp beoordelaars is musiek vermoor.

“Hulle is moordenaars van musiek! Ek staan op en sê dit namens elke musikant ter wêreld en hulle sal almal daarmee saamstem. Ek gee nie ’n duit om of ek hulle seermaak nie . . . al die seksuele uitbuiting van jong mense, al die aanbidding van blink goed en geld en diamante en die Pop Idol-goed, Simon Cowell - dit kom neer op die moord op musiek.”

Tog het Sinead in 2009 gesê sy sou aan The X Factor deelgeneem het as sy die musiekbedryf wou betree.