Simon Cowell (53) en Howard Stern (59) is die bes betaalde TV-persoonlikhede in Amerika.

Die twee het tussen Junie verlede jaar en Junie vanjaar na raming R934 miljoen elk verdien, wat hulle volgens Forbes die grootste verdieners maak.

Glenn Beck (49) se webtuiste oor sy regse sienings het hom R885 miljoen in die sak gebring, ’n kortkop voor die geselsprogramaanbieder Oprah Winfrey (59), wat in dieselfde tydperk R757 miljoen gemaak het. Oprah se protégé dr. Phil McGraw (62) het die top-vyf voltooi met die R708 miljoen wat hy in dié tydperk gemaak het.

Die politieke kommentator Rush Limbaugh (62), Donald Trump (67), Ryan Seacrest (38), Ellen DeGeneres (55) en Judy Sheindlin (70) van Judge Judy-faam het ook die top-10 gehaal.

Oprah, wat in die komende fliek The Butler speel, het onlangs die nommereen-posisie op Forbes se jaarlikse lys van invloedrykste Hollywood-sterre beklee. Die finansiële tydskrif het gesê dis te danke aan haar inkomste van R757 miljoen, asook haar vernaamheid op TV en sosiale netwerke en in die media. “Sy het nog geweldige baie invloed en dis waarna ons soek. Sy het die kabelnetwerk omgeswaai danksy haar wilskrag, kontakte en vermoëns.”

Oprah, wat al vier keer bo-aan die lys top-verdieners was, is een van drie bekendes wat nog elke jaar sedert die ontstaan daarvan in 1999 op die lys was. Die ander twee is die omroeper Howard Stern en die regisseur Steven Spielberg (66).

Top-10: Forbes se bes betaalde TV-persoonlikhede vir 2013:

Simon Cowell en Howard Stern R934 miljoen elk

Glenn Beck R885 miljoen

Oprah Winfrey R757 miljoen

Dr. Phil McGraw R708 miljoen

Rush Limbaugh R649 miljoen

Donald Trump R619 miljoen

Ryan Seacrest R600 miljoen

Ellen DeGeneres R550 miljoen

Judy Sheindlin R462 miljoen