Simon Cowell sê hy is nie “goed met babas” nie.

Die grootbaas van The X Factor en Lauren Silverman se seun word binnekort gebore, maar Simon erken hy is nie baie goed daarmee om na kleingoed te kyk nie.

“Ek is nie goed met babas nie. Ek weet nooit wat om te doen nie. Maar ek dink wat raad betref, sal ek ’n goeie pa wees wanneer hy ouer is. Dan sal ek al die dinge kan doen wat ek wil doen, soos om na Disneyland of Universal Studios te gaan, hom te leer bestuur – ek hou van daardie soort goed.”

Simon (53) hoop om sy liefde vir musiek aan sy seun oor te dra en sê hy het van sy musieksmake gekry van musiek wat sy ouers vir hom as kind gespeel het.  “Hy sal luister waarna ek luister en dan sy eie besluite maak,” sê hy in die nuwe uitgawe van die tydskrif Parade.

“Dis snaaks . . . my ma het Frank Sinatra gespeel toe ek klein was en omdat sy van hom gehou het, het ek altyd sy musiek verpes, maar nou ek is mal oor Sinatra. Hy het altyd gelyk of hy dit gate uit geniet en sy eie kop volg. Dis seker hoekom daar oral in my huis foto’s van hom hang!”