Simon Cowell se meisie, Lauren Silverman, sal na verwagting op 28 Februarie in New York die lewe skenk.

Die X Factor-baas en Lauren het glo ’n kraamkamer in een van die eksklusiefste hospitale aan Amerika se ooskus bespreek sodat haar ma, Carole Sandland, wat in Florida woon, daarheen kan vlieg om Lauren se eerste kind te help versorg.

’n Bron het aan die webtuiste MailOnline gesê Lauren se ma sal haar by die baba help aanpas, want Simon (54) sal steeds gereeld vir sy werk na Los Angeles en Londen moet reis.

Dis nie verrassend dat Lauren in New York wil kraam nie, want haar agtjarige seun, Adam, oor wie sy saam met haar eksman Andrew Silverman toesig het, gaan in die stad skool. Die twee is in Augustus vanjaar geskei.

Simon het voorheen erken hy hoop sy kind sal in Londen gebore word. Hy het gesê: “Ek sal natuurlik moet sorg dat die baba ’n Engelse aksent het. Ek het vir Lauren gesê: Sê nou ek speel my op band terwyl die baba slaap sodat hyof sy my kan hoor en ’n Britse aksent kan hê, en sy eerste woorde is: ‘Jy’s heeltemal nutteloos!’”