Simon Cowell se affair met Lauren Silverman word deur haar swaer as “’n ongelooflike verhaal van verraad” bestempel.

Die mediabaas (53) verwag sy eerste kind by die New Yorkse sosiale vlinder, wat nog getroud is met die eiendomsreus Andrew, wie se broer die affair as ’n “hartseer verhaal” bestempel.

Alexander Silverman het aan die New York Post gesê: “Dis ’n ongelooflike verhaal van verraad. Dis ’n hartseer verhaal en ’n tragiese verhaal.”

Dit kom voor asof Andrew ná die “verraad” briesend was en hom op Simon wil wreek deur hom as ’n mede-respondent te noem in die egskeidingsdokumente wat blykbaar twee weke gelede in die hooggeregshof in Manhattan ingedien is.

Dit kom ten spyte daarvan dat New York ’n “geen fout”-egskeidingstaat is, en dis onnodig om enigeen in die dokumente te noem.

Daar word geglo dat dit gedoen is om Simon, wat sowat R3,5 biljoen werd is, in die verleentheid te stel, want hy sal moontlik sy geldsake en die besonderhede van hul romanse in die getuiebank moet bekendmaak.

Die bekende egskeidingsprokureur Martha Cohen Stine verduidelik: “Dis in werklikheid ’n teken aan die gade wat verkul het dat die verontregte gade baie kwaad is en dat dit ’n baie gemene, vernietigende, hoëprofiel-saak sal wees.”

Nog ’n voorste huweliksprokureur, William Zabel, stem saam en voeg by: “Dis baie gemeen. Ek veronderstel dis om hulle in die verleentheid te stel en hulle te laat skik.”

Lauren en Simon het na bewering die sterk egskeidingspan Bernard Clair en Robert S. Cohen aangestel om hulle met die stryd te help.