Simon Cowell het Britney Spears uit die beoordelaarspaneel van die Amerikaanse X Factor geskop omdat sy nie uitgesproke genoeg was nie.

Die musiekbaas, wat vanjaar se wedstryd beoordeel saam met Demi Lovato, Kelly Rowland (in 2011 ’n beoordelaar in die Britse X Factor) en Paulina Rubio, het Britney in die pad gesteel omdat sy “ongemaklik” in die rol was.

Simon sê die Ooh La La-sangeres kon nie eerlike, onvleiende terugvoer aan die hoopvolle popsangers gee nie, en hy moes haar vervang.

Hy het op The Ellen DeGeneres Show gesê: “Ek het iemand gekry wat nie kon praat nie, wat nogal ’n probleem is wanneer jy wil hê iemand moet beoordeel!

“Sy was nie gemaklik daarmee om afwysend te wees nie, sy het nie daarvan gehou wanneer die deelnemers met haar terugpraat nie, sy was dus net ongemaklik. Ek het van haar gehou. Ons het dus besluit om dit vanjaar te verander en ek het gedink ek sal saam met drie meisies werk omdat ek graag saam met vroue werk.”

Britney was ’n mentor vir die junior deelnemers aan verlede jaar se program, en het saam met Simon, L.A. Reid en Demi gewerk.

Simon, wie se meisie Lauren Silverman hul eersteling verwag, het ook vertel dat hy Britney (31) ’n beoordelaar gemaak het omdat sy so ’n bekende in die popwêreld is.

Toe Ellen, wat in 2010 saam met Simon ’n beoordelaar op American Idol was, hom vra waarom hy Britney aangestel het, het hy geantwoord: “Eerlikwaar, Ellen, in ’n stadium wou almal mekaar oortref deur die grootste en bekende ster in die paneel te kry.”