Die musiekmagnaat Simon Cowell is opgewonde oor pa word en sê sy meisie, Lauren Silverman, is “baie spesiaal” en het sy lewe ten goede verander.

Die X Factor-baas het eindelik openlik gepraat nadat Lauren verlede week amptelik van Andrew Silverman geskei is.

Die 53-jarige musiekbaas het op Dinsdag 20 Augustus by die wêreldpremière van die fliek One Direction: This Is Us aan die BBC gesê: “Ek voel trots. Ouerskap is iets waaraan ek nog nie voorheen gedink het nie, maar ek weet nou dat ek goed voel daaroor.”

Hy het bygevoeg: “Dinge is besig om in my lewe te verander, ten goede. Lauren is ’n baie spesiale meisie.”

Simon wou nie sy verhouding verder bespreek nie, en volgens UsMagazine.com het hy terwyl hy op die rooi tapyt was aan verslaggewers gesê: “Ek moet dit ongelukkig op die oomblik privaat hou. Dis net een van daardie dinge. Maar baie dankie in elk geval.”

Die paartjie is nog nie saam gesien sedert die nuus van hul vier jaar lange affair bekendgemaak is nie, maar Simon het gereël dat Lauren na die Verenigde Koninkryk (VK) vlieg om sy ma, Julie Brett, te ontmoet.

’n Bron het tevore gesê: “Lauren vlieg na die VK om formeel aan Simon se ma voorgestel te word. Hy is meer senuagtig daaroor as oor pa word! Simon se ma is die baas.

“Hy wil haar goedkeuring hê, en hy wil hê dat Lauren en Julie op goeie voet moet wees. Dit beteken alles vir hom dat die twee belangrikste vroue in sy lewe ’n goeie band smee.”

Simon se eksverloofde Mezhgan Hussainy en sy eksmeisie Sinitta was saam met hom op die rooi tapyt, en het spesiaal van hul vakansie in die Mediterreense see gevlieg om die première by te woon.