Die kategorie-vier-storm het vandeesweek Bowen en Airlie Beach in Queensland met allemintige winde van tot 263 km/h getref. Die storm beweeg tans binneland toe as ’n kategorie-twee-storm.

Tot dusver is een mens dood en drie beseer weens die storm, maar owerhede vermoed die getal kan styg. Die storm het grootskaalse skade aan duisende huise aangerig en ook kragonderbrekings veroorsaak.

Die eerste minister, Malcolm Turnbull, het ’n rampbestuurplan van stapel gestuur om die slagoffers by te staan. Sowat 250 mm reën word Woensdag vir die streek voorspel en owerhede het inwoners aangeraai om weg te bly van paaie sodat hulle nie in vloedwaters vasgekeer word nie.

“Ons het reeds twee gevalle gehad waar mense in hul motor vasgekeer was,” het Katarina Carroll, van die Queensland-brandweerdienste, aan die BBC gesê. “Moeder Natuur het haar ergste na Queensland gebring,” het Turnbull in die parlement gesê.

Bronne: BBC, The Guardian, ABC News