Die internet is ’n vreemde plek waar vreemde dinge gebeur, maar selfs gesoute gebruikers van die webtuiste Tumblr was geskok toe hulle lees ’n vrou het haar toon aan ’n ander gebruiker gepos.

“Ek het onlangs ’n baie spesiale pakkie in die pos ontvang,” lui die gebruiker - wie se naam glo Lana is - se inskrywing.

“Dit het ’n afgesnyde menstoon in.” Die webwerf was vinnig op hol oor die unieke aflewering, waarna die ontvanger verduidelik het sy is ’n juwelier wat vreemde, unieke juweliersware maak.

http://royallyoily.tumblr.com/post/153703332149/cummy-eyelids-a-few-days-ago-i-received-a-very

Sy gaan die toon glo in ’n spesiale houer verpak en dan deel maak van ’n halssnoer, wat sy aan die “toonskenker” gaan terugpos. Boonop is die toon al tien jaar gelede afgesit.

“Hierdie is letterlik ’n toon wat aan haar voet was,” skryf sy by foto's van die toon. Die eienaar moes glo haar toon laat afsit weens mediese redes en hou dit die laaste dekade in ’n spesiale houer waarin dit behoue bly.

“Ek gaan die formule verander waarin die toon is, dit in ’n mooi houer verpak en ’n halssnoer daarvan maak. Hierdie projek is vir my besonder betekenisvol - meer as enige projek wat ek al aangepak het. Ek is dankbaar vir haar vertroue in my,” skryf Lana.

Die toon se eienaar, wat net onder die gebruiknaam “royallyoily” bekendstaan, het op haar beurt gesê sy het trane in haar oë van dankbaarheid.

“Ek vertrou jou ten volle en weet my liggaamsdeel kan nie in meer bekwame hande wees nie.”

Nou toe nou!