[caption id="attachment_160931" align="alignnone" width="600"]Foto: Facebook/ Lollypop Farm, the Humane Society of Greater Rochester Foto: Facebook/ Lollypop Farm, the Humane Society of Greater Rochester[/caption]

Die skattige Lucy is in ’n diereskuiling in New York gebore. Op haar linkeroor is ’n spieëlbeeld van haar gesig.

“Ons kyk elke dag na haar, maar niemand het agtergekom wat op Lucy se oor is tot ’n baie oplettende besoeker aan ons webtuiste dit raakgesien het nie,” sê Paige Doerner, woordvoerder van die Lollypop Farm-diereskuiling, aan The Dodo.

“Ons kon dit nie glo toe ons dit sien nie.”

Twee uur nadat die nuus begin versprei het, is klein Lucy aangeneem.

“Al die aandag wat Lucy se oor in die sosiale media getrek het, is wonderlik vir haar en die ander troeteldiere hier by Lollypop Farm,” vertel Paige.

[caption id="attachment_160932" align="alignnone" width="600"]Foto: Facebook/ Lollypop Farm, the Humane Society of Greater Rochester Foto: Facebook/ Lollypop Farm, the Humane Society of Greater Rochester[/caption]

Die skuiling het ook op hul Facebook-blad vertel hoe Lucy en haar sibbes by die diereskuiling beland het.

“’n Naamlose Amerikaanse rondloperveghond is na die diereskuiling gebring. Sy was uitgeteer, oortrek van vlooie en die meeste van haar pels was weg,” vertel hulle op Facebook. Die hond was ook dragtig.

“’n Paar dae later het ons haar Daisy gedoop. Dit het gesneeu die aand toe sy die lewe skenk aan ’n werpsel van agt.”

Ná weke se sorg en opleiding is al dié honde aangeneem en in nuwe liefdevolle huise geplaas – ook Daisy.

Bronne: thedodo.com, dailymail.co.uk, lollypop.org, Facebook