’n Sielkundige se voorstel dat Oscar Pistorius ten tye van sy meisie, Reeva Steenkamp, se skietdood aan algemene angssteuring gely het, het paniek onder lyers veroorsaak, het die Sunday Times berig.

Die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) se direkteur, Cassey Chambers, het aan die koerant gesê hulle het honderde oproepe ontvang van mense wat bekommerd is dat die steuring tot onvoorspelbare, onstabiele en gewelddadige gedrag kan lei.

“Mense het gevra of hul naasbestaandes met die steuring onmiddellik gehospitaliseer moet word.”

Cassey het gesê die waarskynlikheid dat mense met die steuring gewelddadig kan raak, is laag.

“Angs is ’n introspektiewe saak en lyers is nie geneig om ’n gevaar vir ander te wees nie,” het sy gesê.

Oscar, wat teregstaan weens Reeva se moord, het verlede week ’n 30 dae lange evaluering by die Weskoppies psigiatriese hospitaal in Pretoria begin.

Die Paralimpiese atleet is as ’n buitepasiënt opgeneem nadat regt. Thokozile Masipa die bevel in die hooggeregshof in Pretoria oorhandig het.

Die bevel volg op ’n deskundige getuie se mening dat Oscar, wat erken het dat hy Reeva geskiet het, aan algemene angssteuring ly.

Regt. Masipa het gesê die evaluering sal bepaal “of hy in staat was om die wederregtelikheid van sy daad te verstaan en of hy opgetree het in oorstemming met die besef van die wederregtelikheid van sy daad”.

- Sapa