Halle Berry besoek ’n sielkundige om haar haar werkstres te help hanteer.

Die 46-jarige aktrise – wat ’n vyfjarige dogter, Nahla, uit haar verhouding met die Kanadese model Gabriel Aubry (37) het en haar eerste kind verwag by haar derde man, die Franse akteur Olivier Martinez (47) – erken die druk van die rolprentbedryf kan sy tol eis en dat sy berading kry om haar aan die gang te hou.

Sy het aan die tydskrif Total Film gesê: “My pa was ’n alkoholis wat baie op ons geskel het. My ma het geweet hoe belangrik dit was om my die uitlaatklep te gee van gesels met ’n objektiewe persoon, om my my gevoelens en emosies te help verwerk.

“Wanneer ek onder druk is, bel ek ’n sielkundige, gaan vir ’n paar sessies en verwerk my gevoelens. Ek mediteer ook baie. Ons binneste is baie kragtig en wat ons dink, kan werklik ons werklikheid en uitkyk beheer.”

Halle, wat van plan is om so gou moontlik ná die geboorte van haar baba terug te keer werk toe, sê ook sy het geleer hoe belangrik dit is om haar loopbaan van haar persoonlike lewe te skei.

Sy het verduidelik: “Namate ek ouer geword het, het ek uit noodsaak geleer hoe belangrik dit is om jou werk by die werk te los. Om net die helfte van die dinge wat ek in die rolprentwêreld moet doen huis toe te bring is werklik nadelig vir my persoonlike lewe – veral noudat ek ’n ma is. “Ek moet huis toe kom en ’n ma wees; ek moet dieselfde persoon wees as toe ek weggegaan het.”