’n Siamese tweeling van 10 maande se kanse om te oorleef is goed nadat ’n operasie verlede week uitgevoer is om hulle van mekaar te skei.

Die operasie is reeds voor hul geboorte verlede April beplan.

Die twee meisies, Knatalye Hope en Adeline Faith Mata, het ’n borskaswand gedeel, sowel as longe, deel van hul hartsak, die diafragma, lewer, kolon, ingewande en pelviese area. Die mediese span is deur dr. Darrell Cass van die Texas-kinderhospitaal in Houston in die Amerikaanse deelstaat Texas gelei. Dit het 26 uur geneem om die operasie te voltooi. Darrell het gesê daar was baie uitdagings, maar hy is vol vertroue dat hulle goed sal herstel.

Die twee was in ’n stabiele, maar kritieke toestand en sal tot volgende week op ventilators wees. Hulle sal ook die volgende paar maande in die intensiewe eenheid deurbring en dan nóg operasies moet ondergaan. Vyf uur in die operasie in het Adeline se bloeddruk gedaal en moes haar hart vyf tot agt minute lank met die hand “gepomp” word om haar bloeddruk te normaliseer. “Dit het soos ’n leeftyd gevoel,” het Darrel gesê.

-Sapa