Die Britse sakeman Shrien Dewani het sy emosies goed onder beheer gehad toe hy vandag in die Kaapse Hooggeregshof  hoor dat hy geskik is om verhoor te word.

Hy was netjies geklee in ’n donker grys pak en hy het selfs vir regter John Hlophe bedank toe hy hom aan die einde van die hofverrigtinge direk aanspreek en sê het dat hy hom op 9 September weer sal sien vir ’n voorverhoor.

Die amptelike verhoor sal op 6 Oktober begin en die staat hoop dat dit teen 12 Desember af te handel.

Dewani word daarvan aangekla dat hy betrokke was by die ontvoering en moord sy vrou, Anni, tydens hul wittebrood in Suid-Afrika.

Die direkteur van openbare vervolging, Rodney de Kock, sê die paneel deskundiges wat hom geevalueer het, het bevind dat hy nie aan enige geestesversteuring ly nie en dat hy verhoor kan word.

Shrien het vol selfvertroue voorgekom en daar was geen tekens van die beteuterde, senuweeagtige man wat voorheen in die hof verskyn het nie.

Sy pa, Prakash, ma, Snila, broer, Preyen, en suster Preyal was saam met nog familielede teenwoordig.