Wes-Kaapse adjunk-regter-president, regter Jeanette Traverso, het die aansoek om ontslag toegestaan. Hy kan glo nie weer op die aanklagte verhoor word nie.

Shrien het op 6 Oktober in die Wes-Kaapse hooggeregshof skuld ontken op die vyf aanklagte teen hom: sameswering tot ontvoering, ontvoering, roof met verswarende omstandighede, moord en regsverydeling.

Hy word daarvan aangekla dat hy in November 2010 sy vrou, Anni Hindocha, se moord beplan het.

Sy regspan onder leiding van adv. Francois van Zyl het ná 22 hofdae ’n art.?174-aansoek ingevolge die Strafproseswet by die hof ingedien het. Hulle het gevra dat die aanklagte teen Dewani teruggetrek en hy vrygespreek word.

Shrien het in dié aansoek aangevoer die staat se saak is op ’n samesweringsteorie gegrond.

Ingevolge art. 174 kan die hof die ontslag van ’n beskuldigde beveel indien hy meen dat daar geen getuienis is waarop ’n skuldigbevinding redelikerwys kan berus nie.